Die opspraakwekkende hofsaak waarin Nikita Titus (26), ’n plaaswerker van Piketberg, teen ’n voormalige polisie-ordonnans van Piketberg getuig het, het haar geknak, het sy vandeesweek aan Weslandererken. Sy kan steeds nie saans slaap nie en moes ’n doktersvoorskrif vir slaappille kry om haar te help om aan die slaap te raak.
Richard (Makka) Smit (38) is verlede Donderdag (5 Oktober) in die Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade. Hy het sy vriendin, Natasha Booise (32), op ’n Sondagmiddag (2 Januarie 2022) koelbloedig in die middel van die hoofstraat ten aanskoue van haar seun en familie doodgeskiet.
Hy het haar met sy dienspistool in die rug geskiet terwyl sy probeer weghardloop het. Booise het gesterf net daar waar sy in haar wit hemp en blou denim in die straat geval het.
’n Jaar en nege maande later het regter André la Grange dié voormalige polisiesersant lewenslange tronkstraf opgelê. Smit het vroeër ingevolge die Strafproseswet 51 van 1977 skuld beken op die aanklag van moord, aanranding, poging tot moord, dronkbestuur, die hantering van ’n vuurwapen terwyl onder die invloed van drank en die rig van ’n vuurwapen sonder goeie rede.
Vir Titus bring dié vonnis ’n groot gevoel van verligting. “Die hofsaak het my ’n bietjie geknak,” het sy erken.
Toe sy op die noodlottige dag verlede jaar saam met Makka gekuier en later in die motor geklim het, het nie sy of haar sussie, wat saamgery het, verwag dat die dag met ’n moord sou eindig nie.
Sy het Natasha geken en geweet wie sy was, maar hulle was nie huisvriende nie.
Dit was in die tyd voordat hulle teen Makka sou moes begin getuig, dat die gesukkel om saans te slaap begin het. Sy moes dokter toe gaan weens die stres en angs en moes slaappille kry.
Namate haar getuienis in die hofsaak nadergekom het, was sy gewis bang, al het sy uit haar eie keuse gaan getuig.
“Die oomblik toe ek hom weer sien, het ek weer bang geword.”
Sy en haar sussie het geen idee gehad dat Makka daardie noodlottige dag ’n vuurwapen by hom gehad het nie, wat nog te sê in staat sou wees om iemand dood te skiet.
rybewys opgeskort
“Almal het Makka geken omdat hy ’n polisieman was. Ek het hom beter leer ken toe ons almal begin saamkuier het,” het Titus gesê.
Smit het erken dat hy reeds dronk was toe hy in sy Renault saam met die vroue geklim het om na Booise te gaan soek, waarvoor hy ’n boete van R6 000 of drie jaar tronkstraf opgelê is. Sy rybewys is ook opgeskort.
Smit het erken dat hy Booise aangerand het deur haar uit sy blou Renault Sandero aan die hand te gryp en haar by die motor te probeer intrek. Hiervoor is Smit ’n bykomende drie jaar tronkstraf opgelê.
Booise was op ’n uitstappie saam met haar 12-jarige seun en familielede wat van die Paarl af kom kuier het. Smit het haar volgens getuienis deurentyd gebel en daarop aangedring om te weet waar sy was. Op die kringtelevisie-opname van die moord kan gesien word hoe Roslin Kaaiman, haar niggie, nader stap en ook met Smit begin praat.
geen idee nie
Titus het getuig Booise het gepleit Smit “moet dit nie doen nie”, waarop Booise en Kaaiman omgedraai en begin weghardloop het. Hierop het Smit sy (9-mm-Z88-) dienspistool uitgehaal en oorgehaal. Die volgende oomblik het die skote geklap en Booise is in die rug getref.
Titus het gesê sy het gehou by haar getuienis omdat sy glo mense wat só optree, moet nié vry buite kan rondloop nie.
Nadat Smit Booise doodgeskiet het, het hy agter Kaaiman aangery en, soos hy self erken het, haar probeer doodskiet. Hy het glo aan haar gesê hy gaan haar “vrek skiet”. Hiervoor het Smit nóg 10 jaar tronkstraf gekry.
Makka het hierna die sussies afgelaai en eers voor die polisiestasie gesit en selfmoord oorweeg, voordat hy homself oorgegee en in hegtenis geneem is.
Hy het erken dat hy sy dienspistool gebruik het terwyl hy dronk was én nie aan diens was nie, wat hom ’n verdere drie jaar tronkstraf op die hals gehaal het.
Laastens het Smit erken hy het sy dienspistool op Kaaiman gerig sonder goeie rede om dit te doen. La Grange het Smit ’n verdere 12 maande tronkstraf vir dié klag opgelê en hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Smit, wie se bloedalkoholvlak, luidens hofdokumente, 0,2 g/100 ml tydens die voorval was (die wettige perk is 0,05 g/100 ml) het reeds ’n vorige veroordeling vir dronkbestuur.
Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich is Smit op 14 November 2020 omstreeks 22:30 in dieselfde hoofstraat voorgekeer omdat hy roekeloos bestuur het.
Smit, wie se asem volgens die verkeersbeampte wat hom voorgekeer het, na drank geruik het, het geweier om uit sy voertuig te klim, die voertuigdeure gesluit en van die toneel af weggery. Hy is later aangekeer en in hegtenis geneem, waarna hy skuld beken en ’n boete van R1 000 betaal het.
Nog vroeër, in Julie 2017, het Smit ’n boete van R3 000 betaal nadat hy skuld op ’n klag van aanranding beken het.
“Ek het net so ’n jammerte vir Tasha; dat sy so wreed van ons af weggegaan het. Ek is net bly hy het gekry wat hy verdien,” het Titus gesê.





