“Samewerking is die sleutel tot misdaadbekamping.”
Só sê AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder vir die Saldanha-polisie, nadat die flink optrede van ’n veiligheidswag, die polisie en ’n oplettende inwoner tot die terugvind van vermoedelik gesteelde goedere gelei het.
Volgens Kotze het ’n veiligheidswag Maandagoggend (31 Oktober) skuins ná 05:00 iemand in Saldanhaweg met ’n platskermtelevisie in sy arms sien loop.
Hy het die polisie in kennis gestel, waarna konst. Andile Zidee en konst. Venketesh Septoo, wat patrolliediens in die omgewing gedoen het, ondersoek ingestel het.
Intussen het ’n inwoner van Adamstraat die polisie laat weet ’n man wat ’n televisieskerm dra, het pas in dié straat by ’n erf ingehardloop.
Die konstabels het daarna ’n man (26) in Adamstraat in hegtenis geneem en die vermoedelik gesteelde Telefunken-skerm en sweiskabels is in sy besit gevind.
Die polisie soek na die eienaar, wat ’n bewys van eienaarskap moet toon voordat die goedere oorhandig sal word. Bel sersant Khangelani Kabisoyo by 022 714 8333.




