Dié bakkie is ’n paar uur nadat dit in Vredenburg gesteel is, in Laaiplek opgespoor.


Wat ’n groot ontnugtering om in die middel van die nag te ontdek iemand is besig om jou ryding voor jou huis te steel.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het ’n man (56) Donderdag 28 Julie in die donker oggendure wakker geword toe hy geluide buite sy woning in Witteklip hoor.

Hy het opgestaan om te gaan ondersoek instel en tot sy groot verbasing ontdek drie mense is besig om sy bakkie van die perseel af te stoot. ’n Vierde dief het agter die stuurwiel gesit.

Die bakkie-eienaar kon nie veel doen om alarm te maak nie, aangesien ’n vyfde skelm hom uit die bure se erf dopgehou het.

Dié het ’n vuurwapen op die slagoffer gerig en hom beveel om stil te bly.

Helfrich sê die vier mans het ten aanskoue van die voertuig-eienaar op en in die bakkie geklim en daarmee weggery.

Die bakkie is later die Donderdag verlate in Laaiplek teruggekry.

Die polisie ondersoek die saak.

Niemand is nog met betrekking tot die diefstal in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article