Dis enige diere-eienaar se nagmerrie wanneer een van jou vierbeenkinders verdwyn.
Jenny Moors, ’n inwoner van Vredenburg, se 15-jarige Cocker Spaniel, Abbie, het Maandag 1 Mei vermis geraak. Moors vermoed sy is tussen 22:00 en 22:30 van haar eiendom af gesteel.
Moors het ’n groot liefde vir diere en sê sy was baie ontsteld toe sy besef Abbie is weg. Nie lank daarna nie en met die hulp van sosiale media het sy ’n plasing op Facebook gesien van ’n gesteelde hond. “Ek het dadelik besef dit is my hond. Net sy het daai gesiggie; daar is nie nog een soos sy nie,” vertel Moors. Moors sê die mense wat haar hond gesteel het, is glo ’n groot probleem in die dorp.
Die raadslid Sucilla van Tura het die gebeurtenis op Facebook geplaas nadat sy op pad huis toe was en ’n seun met die hond in ’n trollie in Louwville gesien het. “Ek het hom onmiddellik gestop om hom te konfronteer en gevra waarheen hy met die hond gaan en waar hy die hond gekry het. Ek kon sien dat die goed versorgde hondjie baie bang was. Die seun het gesê hy het die hond in die dorp gekry, en as ek die hond wil hê, moet ek hom ’n beloning gee,” vertel Van Tura. Ná die plasing op Facebook het Moors dadelik met Van Tura se seun in verbinding getree, wat haar omstreeks 01:45 op Dinsdag 2 Mei met haar geliefde Abbie herenig het.
Moors sê sy is baie dankbaar vir Van Tura se hulp. “Sonder haar flink aksie sou Abbie nie so maklik gevind gewees het nie,” het sy gesê.
Louise van Zyl van die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV) sê duur, suiwer geteelde diere word gewoonlik om verskeie redes geteiken. “Hulle word óf geneem om herverkoop te word, mee te teel óf vir hondegevegte gebruik te word. Kleiner honde en nie-aggressiewe honde kan vir ‘aas’ gebruik word vir opleiding vir hondegevegdoeleindes.”
Van Zyl bied die volgende wenke aan om jou hond veilig te hou: . Beveilig jou eiendom. Moenie jou hond sonder toesig in die voortuin los nie. Laat hulle in die agterplaas speel en hou hulle altyd dop. Laat hulle binne slaap. Hulle kan beter na jou omsien binne jou eiendom as buite. Hou hulle agter geslote deure wanneer jy nie by hulle is nie.. Moenie toelaat dat jou hond los loop wanneer jy hom vir ’n uitstappie neem nie. Hulle kan dalk verdwaal en dit vir iemand maklik maak om hulle te steel.. Laat jou honde steriliseer, aangesien onwettige telers nie-gesteriliseerde honde wil hê.. Kry vir jou hond ’n mikroskyfie. Dit verhoog jou kanse aansienlik om hulle te vind en lewer bewys van jou eienaarskap. Kry ook ’n GPS-opsporingshalsband vir jou hond.





