Die gemeenskap, visfabriek en verskeie vlakke van regering gesels steeds oor die slegte reuk wat oor St. Helenabaai hang.

Werkers van die plaaslike visbedryf en hul gesinne het Vrydag 12 Mei ’n vreedsame optog na die Lucky Star-aanleg in Stompneusbaai gehou weens hul ongelukkigheid met omgewings­voorwaardes wat deur die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) gestel is.

Gemeenskapslede vrees hierdie voorskrifte sal minder werk vir die gemeenskap tot gevolg hê.

Die voorwaardes bepaal nou onder meer dat geen stukke afvalvis by die fabriek verwerk mag word nie, vis binne 30 uur gevang en geprosesseer word, en daar laastens gekyk moet word na die gehalte van die vis.

Volgens die WKDM is hierdie voorwaardes van die atmosferiese emissie-lisensies (AEL) nie nuwe voorwaardes nie, maar is beter omskryf as dié van 21 Julie 2022.

Die munisipaliteit het by navraag gesê dit is gedoen om enige onsekerhede uit die weg te ruim.

Intussen het Lucky Star na die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, vir hulp uitgereik. Winde het op sy beurt ministers Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, en Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling, gevra om ondersoek in te stel.

In ’n persverklaring het Bredell verduidelik daar is geen wetlike voorskrif wat reuk betref nie. Luggehalte word wel deur die munisipaliteit en dan Bredell se departement, as toesighoudende gesag, bepaal.

“Die WKDM hanteer alle klagtes van die publiek wat die reuk betref en het die reuk as ’n oorlas-reuk hanteer, gegewe dat Lucky Star voldoen aan die voorskrifte van sy atmosferiese emissie-lisensies,” het Bredell verduidelik.

Die departement en die distriksmunisipaliteit het gereelde vergaderings oor luggehalte in die Weskus, wat die Lucky Star-klagtes insluit. Volgens Bredell is sy departement nou in gesprek met die nasionale departement van bosbou, vissery en die omgewing aangesien dié departement die nasionale voorskrifte vir luggehalte opstel.

Dinsdag het gemeenskapslede, die visfabriek en die munisipaliteit weer gesit om die stand van sake te bespreek. Gemeenskapsleier Thyronne Williams het aan Weslander gesê die gemeenskap beskou Dinsdag se vergadering as ’n sukses.

“Ek dink die munisipaliteit sien nou die groter prentjie van die stand van sake. Ons het ’n drie uur lange sessie gehad, daar was groot debat, maar die beamptes is terug na die munisipaliteit om dinge goed deur te kyk,” vertel hy.

Volgens Williams sal die aanleg operasioneel bly tot ’n aansoek om afwyking van die voorwaardes ingedien word. “Ons beskou dié geleentheid as ’n oorwinning vir die gemeenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article