Weskussers wat Woensdagaande vir die gewilde realiteitspeletjiesprogram Wie word ’n Miljoenêr op DStv-kanaal 144 inskakel, sal dalk verras wees om te weet die Weskus is onlangs verteenwoordig.
Leensie Lötter, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid in die Weskus-streek en die Paarl-hospitaal, was in Woensdag 22 Februarie se episode ’n deelnemer waar sy uiteindelik met R20 000 in die sak weggestap het nadat sy die besluit geneem het om by vraag agt eerder die geld te vat wat sy tot dusver bymekaargemaak het as om die kans te waag en moontlik R10 000 te verloor as sy verkeerd antwoord.
Kykers sal onthou dat Lötter vasgehaak het met ’n vraag oor wie in 2010 saam met Bill en Melinda Gates, die stigter van die Giving Pledge, was. Daarin beloof superrykes om ’n groot gedeelte van hul rykdom aan liefdadigheid te wy. Nadat sy haar niggie gebel en na die aanbieder, Rian van Heerden, gedraai het met haar laaste hulplyn, was sy steeds nie oortuig dat dit die knoop sou deurhaak en haar tot by R25 000 sou bring nie.
“Dis nie dat ek nie Rian en my ‘bel-’n-pel’ vertrou het nie; ek was self werklik onseker oor die antwoord en die som in my kop was dat ek óf R5 000 by my totaal kan voeg sonder enige verdere hulplyne, óf R10 000 kan verloor.”
Sy sê sy is steeds tevrede met haar besluit en sou nie noodwendig enigiets anders wou doen nie.
Dit was immers ook nie Lötter se eerste kennismaking met ’n televisiespeletjiesprogram nie. Sy het 10 jaar gelede ook aan Noot vir Noot deelgeneem.
“Ek hou van algemenekennis-vasvrae soos bordspeletjies en TV-programme. Omdat ek in kommunikasie en media werk, is dit ook vir my fassinerend om te sien hoe sulke produksies agter die skerms werk. En as jy ’n ekstra geldjie kan maak met die trivia wat reeds in jou geheue vasgelê is, hoekom nie?” skerts sy.
Sy skryf haar algemene kennis toe aan die feit dat sy van kindsbeen af radio luister en op skool graag koerant gelees het “om te weet wat in die wêreld aangaan”.
“Ek is van nature nuuskierig – iets wat ook belangrik is in my beroepsveld – en is gelukkig dat sekere trivia net by my vassteek, of dit nou nuttig is of nie. Uit die aard van my werk lees ek ook baie op oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe, so dit help ’n mens om jou algemene kennis te verbreed.”
Lötter verduidelik die proses om uiteindelik as deelnemer vir die televisieprogram gekies te kon word, was nie so maklik soos dit op die oog af lyk nie.
“Daar is ’n aanlyn inskrywing wat ’n paar vrae vra om jou kennis te toets, dan kontak die produksiespan jou vir ’n virtuele onderhoud waar weer ’n paar vrae gevra word.
“Dan word jy in kennis gestel indien hulle jou vir ’n program kies en jy moet besluit wie jou ateljeegas is, wie jou ‘bel-’n-pel’ is en vervoer en akkommodasie word gereël.
“Op die dag van die opname is daar ’n ‘briefing’-sessie, grimering en ’n besoek aan die stel sodat jy gemaklik is met jou sitplek wanneer die opname begin.”
Iets wat lesers ook interessant sal vind, is dat alle deelnemers en hul gaste ’n nie-openbaarmakings-ooreenkoms teken om te keer dat hulle vooraf enigiets oor die uitkoms verklap.
“ ’n Paar mense se nuuskierigheid het in die proses die oorhand gekry en iemand het my selfs gevra om my oë te knip of ’n gebaar te maak indien ek wel in die warm stoel beland het,” vertel sy humoristies.
Sy bieg sy was self nuuskierig om te sien hoe die deelnemer Lynwill, van Stellenbosch, wat gisteraand (Woensdag) verder gespeel het, sou vorder, “want ek het mos geweet wat [in my episode] gebeur het . . .”





