Noodplanne vir dae sonder elektrisiteit word gemaak.


Gebeurlikheidsplanne vir die ergste dae van beurtkrag is ingestel en volgens die Weskus-gesondheidsdepartement streef hulle daarna om al hul fasiliteite oop te hou.

Ná pres. Cyril Ramaphosa se onlangse amptelike verklaring van ’n noodtoestand is die moontlikheid van ’n twee weke lange kragonderbreking genoem. Hoewel die land vandeesweek op vlak 4-beurtkrag was, het beide die Bergrivier- en die Saldanhabaai-munisipaliteit planne om basiese dienste aan inwoners te verskaf indien hoër vlakke beurtkrag ingestel word.

Kragopwekkers, batterye en ander beurtkrag- bestande toerusting het nou die norm geword. Die Weskus-gesondheidsdepartement het by navraag laat weet hulle is gereed vir erger beurtkrag.

Fasiliteite wat kragopwekkers gebruik, se brandstofvlakke word fyn dopgehou en die kragopwekkers word goed in stand gehou.

Tien Weskus-klinieke maak reeds gebruik van omsetters (inverters).

Danksy die batterye bly klinieke in Elandsbaai, Graafwater, Riebeek-Wes, Vanrhynsdorp, Wupperthal, Darling, Laingville, Lutzville, Riebeek-Kasteel, Saldanha en die Paternoster-satellietkliniek se deure oop ten spyte van die landwye kragonderbrekings.

“Die Weskus-distriksbestuur is ook besig om groter bergingskapasiteit vir brandstof daar te stel,” het Leensie Lotter, ’n woordvoerder van die plaaslike gesondheidsdepartement, verduidelik.

Sy verduidelik die departement beoog om hierdie projek uit te brei sodat meer klinieke later vanjaar en vroeg volgende jaar omsetters kan kry.

Volgens die departement is operasies een van die grootste uitdagings in die voortslepende beurtkrag. Lotter sê selektiewe chirurgie moet gereeld uitgestel word omdat noodkrag ’n veiligheidsrisiko vir pasiënte is.

Bedrywigheid by klinieke word ook tydens die kraglose ure bemoeilik omdat pasiënte se data op papier neergepen en dan later op die rekenaarstelsel vasgelê word. Lotter verduidelik hierdie proses beteken die duplisering van werk, wat addisionele tyd in beslag neem. “Met vlak 8-beurtkrag sal daar slegs ongeveer vier ure dienstyd per dag wees en sal dit ongekende uitdagings vir pasiënte wees, veral met betrekking tot vervoer.”

Dr. Nomafrench Mbombo, die provinsiale minister van gesondheid, het intussen verskeie versoeke aan Eskom en die nasionale minister van gesondheid gerig om die groter hospitale in die Wes-Kaap van beurtkrag vry te spreek. Plaaslik is ook aansoek gedoen om die Vredendal-hospitaal van beurtkrag vry te stel.

Lotter sê die Paarl-hospitaal, wat as die streekhospitaal vir die meeste van die Weskus se distrikshospitale dien, is ook geïdentifiseer as ’n fasiliteit wat van beurtkrag vrygestel moet word.

“Die vergunning hiervan is egter onderhewig aan die praktiese uitvoerbaarheid daarvan, en indien fasiliteite elektrisiteit deur munisipaliteite en nie direk van Eskom af nie ontvang, word die proses om die vergunning toe te staan, bemoeilik,” verduidelik sy.

Intussen het Eskom aangekondig fase 4 en 5 sal vir die res van die week geld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article