“Drank en dwelms is van die grootste bydraende faktore tot huishoudelike geweld in Darling.”

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, is huishoudelike geweld op die dorp tans een van hul grootste kopsorge.

In twee plaaslike voorvalle wat op 16 en 17 Oktober plaasgevind het, is twee vroue deur hul mans aangerand – een is met ’n mes in die bors gesteek en die ander is verkrag.

Filander sê ’n paartjie van Darling het Sondagoggend 16 Oktober om 08:00 in ’n stryery betrokke geraak, waarna die man (32) die vrou (25) met ’n mes in die bors gesteek het. Sy is na die hospitaal geneem, waar dokters bevind het haar long het platgeval. Die man is kort daarna op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.

Die volgende dag – 17 Oktober – om ongeveer 15:00 het nog ’n stryery tussen ’n paartjie tot geweld en ’n verkragtingsklag gelei.

Volgens Filander wou die man (34) die vrou (33) na bewering uit die huis jaag. Hy het haar klere in die straat gegooi en haar daarna beveel om seks met hom te hê voordat sy gaan.

Toe sy weier, het hy haar glo op die bed gegooi en verkrag. Die man is in hegtenis geneem en die misdaaddossier is na die Weskus se gesinsgeweldeenheid in Saldanha vir ondersoek verwys.

Albei verdagtes in die twee sake het Woensdag 19 Oktober in die landdroshof op Malmesbury verskyn.

Hul sake is vir sewe dae uitgestel sodat hulle formeel om borgtog kan aansoek doen. Hulle bly in aanhouding.

Volgens Filander is daar elke Dinsdag kommerwekkend baie interdikaansoeke wat by die Darling-hof teen lewensmaats en eggenote ingedien word.

“Hierdie aansoeke word nie net deur vroue ingedien wat sê hul mans mishandel hulle nie, maar ook deur mans wat beweer hul vroue behandel hulle sleg. Dit sluit fisieke, emosionele, verbale en ook finansiële mishandeling in,” het Filander verduidelik.

Die Darling-polisie, die Darling Outreach Foundation, die departement van maatskaplike ontwikkeling, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en buurtwagte vat tans mekaar se hande in die gemeenskaplike stryd teen gesinsgeweld.

Filander sê bewusmakingspamflette word een keer elke maand uitgedeel en gesprekke word gereeld met die gemeenskap oor die gevare van gesinsgeweld gevoer. Dié groep is ook tans besig om ’n program vir die jaarlikse 16 Dae van aktivisme teen gesinsgeweld-veldtog, wat teen die einde van November begin, bymekaar te sit.

Filander sê die dryfveer agter hierdie pogings is ’n positiewe afname in die hoeveelheid gesinsgeweldvoorvalle op Darling.

“Gesinsgeweld is moeiliker as ander misdade om hok te slaan omdat dit dikwels agter geslote deure en nie op straat nie gebeur,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article