Weskussers vind soms allerhande diertjies in snaakse plekkies by die huis, maar motorwerktuigkundiges in Vredenburg het onlangs gewis nie ’n ratel agter ’n ratkas verwag nie.
Werkers van Mortimer Toyota het verlede week ’n kliënt gehelp wat gekla het hul motor gee probleme. “Die motor het glo net gaan staan. Die manne het vermoed iets is fout met die bedrading nadat iets dalk daaraan geknaag het. Hulle het aanvanklik vermoed dis rotte of muise,” verduidelik Ettienne Swanepoel.
Swanepoel help die afgelope vier jaar inwoners in Velddrif en Dwarskersbos om slange te vang en veilig vry te laat. Danksy sy ervaring en werk saam met Cape Nature was hy byderhand om die ratel te probeer vang.
“Dit was ’n ongemaklike taak. Die ratel was omtrent so groot soos ’n vet skoothondjie. Hulle is baie slim en slinks en daar waar hy agter die enjin gesit het, was dit ’n gesukkel om hom uit te kry,” verduidelik Swanepoel.
Ratels is bekend vir hul vreesloosheid en volgens Swanepoel is dit juis wat hulle so gevaarlik maak. Dit het ’n hele paar hande geneem om die ratel van agter die enjin met behulp van ’n strik uit te kry en in ’n hok te plaas.
“Die ratel is onmiddellik weer op ’n geskikte plek vrygelaat. Hulle is werklik besonderse diertjies, hoewel ek weet hulle is ’n groot probleem vir heuningboere. Ek dink meer moet gedoen word om mense oor wilde diere op te voed,” meen hy.
Dit is juis Swanepoel se liefde vir diere wat hom die bynaam Dr. Dolittle verower het. Hy het 43 jaar gelede sy eerste slang gered. Nadat hy na die Weskus verhuis het, het hy meer gereeld op slange afgekom en besluit om ’n amptelike kursus te loop oor slange vang en vrylaat. “Ek het baie slange begin teëkom. Ek het besef iemand gaan seerkry as ek nie die situasie reg hanteer nie – óf ek óf die slang. Indien jy vyf treë weg van ’n slang bly, is jy veilig. Dit is wanneer mense slange verkeerdelik nader of hanteer dat dinge verkeerd gaan.”
Swanepoel meen te veel mense is bang gemaak met slange as kind, wat tot ’n vrees vir dié diere gely het.
Deesdae werk hy saam met Cape Nature, Sanco en ander bewaringsorganisasies om diere in nood te help, hetsy dit slange in die sitkamer of ’n ratel agter die ratkas is.





