Teater- en musiekproduksies wat in 2022 op Oudtshoorn te sien was, sorg vanjaar vir meer as die helfte van die nominasies vir die kykNET Fiësta-toekennings.
Dié lys nominasies is Vrydag 3 Februarie bekend gemaak. kykNET se Fiësta-toekennings vereer sedert 2011 uitmuntende werk by kunstefeeste, met die paneel beoordelaars wat feeste oor die land heen bywoon om debuutwerke persoonlik te ervaar om uiteindelik dié gesogte lys van benoemdes saam te stel.
Ek, Anna van Wyk, uit die pen van Pieter Fourie en onder regie van Marthinus Basson, het verlede jaar by die KKNK gedebuteer en vyf nominasies ontvang: Tinarie van Wyk Loots vir Beste spel in ’n hoofrol; Carlo Daniels vir Beste spel in ’n ondersteunende rol; Basson vir Beste regie, asook vir Beste teaterontwerp vir sy stel, kostuums en inkleding en ’n nominasie vir Beste feesproduksie. Basson is ook benoem vir sy regie van Terminaal 3, wat tydens die KKNK in 2022 gedebuteer het.
Die halwe huis, ’n eenmanstuk met Marlo Minnaar, onder regie van Ricardo Arendse, is drie keer benoem: Minnaar vir Beste spel in ’n hoofrol; Arendse vir Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks en die drama as Beste feesproduksie.
Nog ’n produksie wat in 2022 by die KKNK gedebuteer en drie nominasies ontvang het, is die dansteaterstuk Karatara. Gideon Lombard vir Beste regie, asook vir Beste teaterontwerp vir sy klankbaan en ontwerp en die produksie as Beste feesproduksie. Feesgangers kry tydens vanjaar se KKNK ’n geleentheid om weer Karatara op die planke te sien.
Die oerkluts kwyt met Antoinette Kellermann en Ancient Voices (Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies), wat by die KKNK te sien was, het ook drie nominasies ontvang: Kellermann vir Beste spel in ’n hoofrol; Frieda van den Heever as samesteller vir Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling en Nyiti en Plaatjies vir Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie.
Nataniël se terugkeer na die KKNK in 2022 in Prima Donna is twee keer benoem as Beste musiekgedrewe produksie en Juan Floors Oosthuizen is benoem vir sy bydrae hierin as Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie.
Om skoon te wees, een van die stukke wat tydens die KKNK se nuwe Lucky Pakkie-teateraanbod te sien was, het twee nominasies vir Beste opkomende kunstenaars ontvang: Adriaan Havenga is vir sy spel en teks benoem (saam met sy teks vir Iewers in die grys by die Toyota US Woordfees) en Conradie van Heerden vir sy spel.
Karin Preller se visuele kunsuitstalling by die KKNK in 2022, Beyond Memory, is benoem vir Beste prestasie in visuele kuns.
Musiekuitvoerings wat tydens die 13de Klein Karoo Klassique in Augustus 2022 op Oudtshoorn te sien was, het drie nominasies ontvang: Handel at Home en The Gqeberha Trio is beide vir Beste prestasie in klassieke musiek benoem en Lynelle Kenned is benoem vir Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie vir Handel at Home.
’n Aantal teaterproduksies wat nominasies ontvang het is vanjaar tussen 1 en 9 April by die KKNK op Oudtshoorn te sien.
Moenie hierdie stukke by die 27ste KKNK op Oudtshoorn misloop nie. Die volledige feesprogram is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay.
Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.




