Maak gereed vir die derde Skink Swartland.Foto:


Kom skink ’n glasie by die derde Skink Swartland-geleentheid.

Die geselligheid vind plaas op Saterdag 13 April van 11:00 en 17:00 by die Laaiplek-hotel in Velddrif. Verlede jaar het omtrent 280 gaste dit bygewoon en aan die wyne van deelnemende kelders geproe.

Vanjaar kan gaste uitsien na wyne van Schenkfontein, Org de Rac, Allesverloren, Porseleinberg, Mullineux en Yellowwood Winery, om net ’n paar te noem.

Jolene Janse van Rensburg, die bestuurder van die Swartland-wyn-en-olyfroete, sê hulle verwag sowat 400 gaste.

“Die geleentheid is ’n heerlike ontspanne dag op die oewer van die Bergrivier met smullekker seekos (dink aan seekos-paella, kreef, roosterkoek en sosaties) wat deur die Bester-familie voorberei word, saam met van die beste wyne uit die Swartland. Daar sal ook musiek deur die High End Blues Band wees, wat gaste met musiek in lewende lywe sal vermaak.”

Ook opwindend en uniek is die kos-en-wyn-pasmaataand, wat Vrydag 12 April by die Riviera-hotel plaasvind.

“Daar sal ook ’n proe wees van die 2024-tenkmonsters – dié wyne is nog nie klaar gemaak nie en is nog ongefiltreer.” Kaartjies vir die aand kan direk by die hotel bespreek en gekoop word. Bring vriende en familie en kom deel in ’n dag waar die Weskus en Swartland se mense bymekaarkom om die oes van die see en wynlande te vier.

Kaartjies vir Saterdag 13 April kan deur Quicket bespreek word. )Soek Skink Swartland.

. Staan ’n kans om twee kaartjies te wen vir Skink Swartland. WhatsApp jou naam en van saam met die antwoord op die volgende vraag na 082 576 0453: Hoeveel gaste word by vanjaar se Skink Swartland verwag?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article