O ja, dis mos al weer amper daardie tyd van die jaar wanneer ons Vryheidsdag in Suid-Afrika gaan vier. Ek het amper vergeet, want sjoe, as ’n mens na al ons uitdagings in die land kyk, dan wil ’n mens amper vergeet dat daar nog iets soos Vryheidsdag ook is. As jy maar net so rondom jou loer, dan sien jy soveel van die teendeel van vryheid waarin soveel van ons as landsburgers vasgevang is.
Natuurlik moet ’n mens spesifiek wees oor die vryheid waarna jy verwys. As dit oor politieke vryheid gaan, dan kan ons seker met reg verwys na die dag en datum toe ons as land op politieke vlak uiteindelik die vryheid gesmaak het om sonder die boeie van ’n drakoniese politieke bestel te leef.
’n Paar dekades daarna wonder ’n mens hardop hoeveel van daardie vryheid wat met bloed, sweet en trane verdien is, nog in sy suiwer vorm deur elke landsburger beleef word. Partykeer, in ons nuwe bedeling, voel dit asof daardie vryheid so ’n afgewaterde woord geword het wat deur baie slegs vir eie selfsugtige redes ingespan word. Geen wonder dat soveel van ons geheel en al afgestomp geraak het vir die toesprake wat op politieke vlak op Vryheidsdag uitgebasuin word nie.
Waar en hoe sal ’n mens dan daardie vryheid in sy suiwer vorm kan geniet en waardeer? is die ope vraag wat ek myself afvra. En dis net hier waar ek begin opgewonde raak oor my eie hier wees in ons mooi land.
Die vryhede wat so mooi duidelik in ons Grondwet uitgespel word, het die voordeel dat dit vir elke individu of groep beskore is. Een daarvan is die vryheid van beweging. Oukei, minus daai tyd toe ons, so ’n paar jaar gelede, nie die voorreg gehad het om sommer na vrye wil en keuse te kon beweeg het nie. Jy weet waarvan ek hier praat. Dankie tog ons kan weer die vreugde van vrye beweging geniet.
Deesdae doen ek juis dit – om daardie kuiers in te kry by familie en vriende waar ek vry kan voel om net te wees. Dis ’n klein groepie mense, maar dis by hulle waar ek na hartelus kan lag, kuier en vry voel. Aan die begin van hierdie jaar het ek sommer vir myself ’n klompie doelwitte opgestel waarin ek kan uiting gee aan my persoonlike vryhede – veral die vryheid om sonder enige vrees myself te mag uitdruk in woord en daad.
Sjoe, en watter lekkerte is dit nie om hierdie doelwitte een vir een te bereik nie. Een van hierdie doelwitte is om my op fisieke vlak op peil te hou. Dus sien ek vreeslik uit na my volgende staptog saam met ’n groep mense wat my lus vir die lewe net nog meer sal aanwakker.
Ek sien ook daarna uit om my groen vingers die werk te laat doen op ’n lappie grond waar ek na hartelus hierdie liefde van my kan beoefen, want ek mag. My vryheid van beweging laat my ook toe om in kontak te kom en te bly met die mense wat my geestelik aanspoor om elke dag ’n beter weergawe van myself te word – daardie mense wat my as mens op ’n gebalanseerde wyse uitdaag om onwrikbaar aan my geestelike waardes en fondasies vas te hou. Dit is ook die mense wat saam met my kan lag oor die simpel foute wat ons soms maak, maar nie veroordelend sal staan teenoor daardie glipse nie.
My vryheid wil ek ook inspan in diens van ander, maar nie ten koste van myself nie, want ek het al op die harde manier geleer as jy vir ander meer omgee as vir jouself, het jy later niks meer oor om te gee nie. En ook omdat ek mag, sal ek nog ’n keer kaalbas in ’n plaasdam of ’n rivier wil gaan swem en sal ek in my mooiste stem vir ’n vriend, vriendin of vreemdeling ’n Afrikaanse liedjie wil sing en daai iemand se dag of jaar ’n bietjie wil ophelder.
Jy sien, die vryhede wat ons tot ons beskikking het, laat elkeen van ons toe om die mag daarvan positief in te span. En as die donker wolke van ongunstige omstandighede in ons land nog ’n keer waag om jou dag of week op te foeter, dan wil ek my vryheid inspan om hard en luidkeels te skree dat ek niks of niemand sal toelaat om my vreugde te steel nie.
En is daar nie baie van hierdie vreugdestelers in ons midde wat daarop uit is om jou vryheid aan bande te lê nie? Juis om hierdie rede maak ek dit my daaglikse doelwit om my kop en hart te beskerm teen alle vorme van euwels wat my vryheid wil steel.
As ek dus na al die soorte vryhede kyk wat ek en jy elke dag kan geniet, bly die beste hiervan die voorreg om ’n keuse te mag uitoefen. Ons – ek en jy – hoef nie vir alles ja te sê nie. Ons kan kies wat vir ons goed en heilsaam is.
Mag jy hierdie Vryheidsdag jou persoonlike vryheid terdeë geniet, want jy mag!




