Die Weskus-Woord-gemeente in Jacobsbaai het Saterdag (10 Junie) die rekord vir die meeste pannekoeke wat ’n Weskus-dorpie gratis uitgedeel het, verbeter.
Die gemeente is op 25 Desember 2022 met ds. Gielie Joubert se aftrede in Jacobsbaai gestig en hy versoek is om ’n Kersdiens te hou. Ds. Joubert vertel sowat 100 mense het die diens bygewoon en die behoefte is gevoel om aan te hou met die dienste omdat daar “groot belangstelling was”.
“Verskeie mense het oor die jare die wens uitgespreek dat daar ’n gemeente op Jacobsbaai moet wees, maar die dorpie is te klein vir elke kerkgenootskap om sy eie kerk daar te vestig.
“Derhalwe is Weskus-Woord ’n interkerklike gemeente met die visie om ’n plek van hoop te wees vir alle Jacobsbaaiers, ongeag kerkverband of geen kerkverband,” verduidelik ds. Joubert.
As uitreikaksie het die Weskus-Woord-gemeente verlede Saterdag ’n wêreldrekord-pannekoek-dag gehou waarin gepoog is om minstens 1 000 pannekoeke – twee per inwoner van Jacobsbaai – te bak om gratis weg te gee.
Schalk Joubert van EPR Sekuriteit was die eerste wat sy gratis pannekoek ontvang het.
Sowat 30 mense het aan die poging deelgeneem en groot entoesiasme het geheers, vertel ds. Joubert.
“Van die jonger kinders het verbygaande motors voorgekeer en pannekoeke aan die insittendes asook aan drawwers, fietsryers ensovoorts wat verbygekom het, oorhandig.
“Private skenkers het dit gefinansier, asook Pick n Pay Ipic-sentrum, wat koekmeel geskenk het, en Bekker Plaasprodukte wat die bestanddele vir ’n lekker en welkome worsbroodjie vir die pannekoekbakkers geskenk het.
“ ’n Gesellige atmosfeer het geheers terwyl digte mis oor die dorp gehang het, maar gelukkig het dit nie gereën nie.
“Mense was egter lus vir pannekoek en geestelike musiek kon ver gehoor word.”
Ds. Joubert sê die verbasing was groot toe hulle op die uiteinde hul eie rekord oorskry het deur 1 695 pannekoeke te bak en gratis uit te deel.
Volgens hom was die motivering vir die uitreikaksie die boek Galasiërs 6, wat daaroor gaan om ’n goeie saadjie van liefde in mense se hart te saai.
“Dit was die eintlike doel van hierdie uitreik – om mense te wys in hierdie moeilike tye van Eskom en swak finansiële toestande, stygende voedselpryse, kragpryse en hoë rentekoerse, waar mense hoop verloor, het God hulle steeds lief en ander mense gee om vir hulle. Dit was die kern van hierdie ding.
“Hierdie pannekoek versinnebeeld dat die mens nie alleen is nie en dat iemand hom lief het. Dis ’n tasbare bewys, want dis maklik om te praat van liefde.”





