Busse het leeg teruggekeer Vredenburg toe nadat hoërskoolleerders van St. Helenabaai in ‘n protesaksie nie gebruik gemaak het van die vervoer skool toe nie. Foto: Danie Hefers

Noluvu Ludidi

Die gemeenskap van

St. Helenabaai het besluit om tot aksie oor te gaan nadat hulle steeds geen terugvoe-

ring van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ontvang het oor wanneer ‘n hoërskool op dié dorp gebou sal word nie.

Ouers van leerders in St. Helenabaai het al vir ‘n geruime tyd hul bekommernisse en griewe gedeel oor die bou van ‘n hoërskool in die dorp en het verskeie griefskrifte aan die WKOD gerig.

Die jongste griefskrif is Saterdag 15 Maart oorhandig en die WKOD het sewe dae gekry om terugvoering te gee voordat die gemeenskap weer sou optree.

‘n Vreedsame protesaksie het op Dinsdag 8 April plaasgevind toe geen hoërskoolleerders op die busse geklim het om na hul onderskeie skole in Vredenburg vervoer te word nie, juis om hul ontevredenheid uit te spreek oor die situasie. Hierdie optrede het gevolg ná ‘n gemeenskapsvergadering op Sondag 6 April.

Volgens raadslid Thyrone Williams sloer die proses van ‘n nuwe hoërskool al vir die afgelope 20 jaar. Williams sê ouers vrees vir hul kinders se

veiligheid en dat hulle daagliks gedreig en beroof word juis omdat hulle moet wag vir busvervoer.

Een ouer het gesê dat die kommer steeds veiligheid bly en dat ‘n skool in die dorp dinge makliker vir sowel ouers as leerders sal maak.

Williams het die WKOD gemaan om hul pleidooi ernstig op te neem en het laat Dinsdag 8 April teruvoering van die WKOD gekry.

Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, is die beoogde terrein nog nie van die munisipaliteit na die departement van infrastruktuur oorgedra nie.

“Die oordrag tussen dié departement en die munisipaliteit is tans aan die gang. Sodra die perseel verkry is, sal die WKOD die nodige beplanningstoestemmings aktiveer.

“Sodra die eiendomverkrygingproses afgehandel is, sal die WKOD die potensiaal hersien om die projek in te sluit in toekomstige beplanning, met inagneming van begrotingsbeskikbaarheid.”

Williams sê die WKOD gee die skuld aan die munisipaliteit, maar alles is reeds aan hul kant gedoen. Hy meen die WKOD moet nou sy kant bring. Die Saldanhabaai-munisipaliteit het intussen bevestig dat die proses om die gebou oor te dra aan die departement tans aandag geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article