Die Gelooftrappers is, van links, Reagan Isaacs, Roberto Hendricks, Lucian Botha en Bayden Isaacs. Foto:


Vier jong mans van White City in Saldanha het onlangs gewildheid verwerf toe video’s van hulle wat danspassies op ’n Pinkster-koortjie uitvoer, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Reagan Isaacs (26), Roberto Hendricks (23), Lucian Botha (18) en Bayden Isaacs (22), bekend as die Gelooftrappers, sê dit het alles begin by ’n park in White City, waar hulle tans woon, toe hulle hier as ’n tipe lofprysing saam in ’n kring met vuur en vlam op Pinkster-koortjies aan die dans geraak het.

Hul eerste video het veral op TikTok opslae gemaak.

Dit het onder meer gelei tot optredes by sang-aande.

“Wanneer ons optree, dan vergeet ons van die gehoor, want dit voel dis net ons en God in die vertrek,” vertel die groep met opgewondenheid.

Volgens die Gelooftrappers is hierdie gawe van binne geestelik aansteeklik en dit maak hulle ook geestelik sterk. Die uitdagings vir jongelinge wat hul talent ten volle wil uitleef, is moeisaam en moeilik, maar hierdie jong mans glo dat elke uitdaging die fondasie was, want hul stryd en harde tye was nie daar om hulle te breek nie, maar wel te bou.

Die Gelooftrappers verwys na Jeremia 1 vers 9 in Die Bybel waar daar staan “en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie, want Ek is met jou, spreek die Here, om jou te red” – iets wat hulle altyd bybly en deur alles dra.

Dié jong mans se entoesiasme vir hul langtermyn doelwitte is inspirerend. Hul groot aspirasie is om ’n opgelugdiens te hou wat jongmense verniet en vrylik kan bywoon en geniet. Atlantis Kingdom Hub is ’n groot inspirasie vir hierdie jong mans en ook die dryfkrag agter hul naam.

Saldanha Pentecostal Ministry het ook ’n groot aandeel in hierdie jong mans se groei in selfvertroue en hul lering om die Here sonder enige skaamte te dien, ongeag die aanslae van buite. Die groep glo die resep om bendegeweld onder tieners in Saldanha te oorwin, is deur omgee en liefde. Hulle voeg by dat omgee “ ’n warm glimlag en bemoedigende woord” insluit.

Audrey Botha, Lucian se ma, sê dit maak haar trots en dankbaar om te sien hoe haar kind hom in die Here verlustig.

“Ek glo dis elke ouer se hartsverlange.”

Wanneer dit kom om jou talent ten volle in die Here uit te leef, raai die Gelooftrappers ander aan om God altyd deel van die besluitnemingsproses te maak en beklemtoon selfvertroue en uithouvermoë is die pad na sukses.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article