Sy laat ’n groot leemte in baie se hart. Dít is hoe geliefdes en vriende die verlies van die Vredenburg-inwoner Theresia van Schalkwyk beskryf.
Medelye het van oral ingestroom vir Terry, soos sy alom bekend was, ná die tyding van haar dood aan natuurlike oorsake op Saterdag 13 Mei.
Sy het in 1993 onderwys studeer en sedertdien haar passie uitgeleef ná sy haar onderwysloopbaan by Eden Primêr begin het en in 1999 by die Hoërskool Weston aangesluit het.
Volgens haar familie en ander het sy ’n groot passie vir jongmense gehad en was sy altyd bereid om te help waar daar nood was. “Sy was passievol oor haar leerders se suksesse,” vertel die familie.
Haar kollegas is glad nie skaam om te deel oor die impak wat sy in hul lewe en dié van die leerders gehad het nie. “Terry was my maatjie. Ons was 20 jaar saam in een departement. Sy was my steunpilaar en ek kon altyd op haar knoppie druk,” vertel juffrou Jossie Williams.
“Sy was eerlik, reguit en opreg. Die leerders het haar as streng beskou, maar het baie liefde van haar ontvang. Haar hand was altyd oop as leerders ’n behoefte gehad het. Sy het net daardie gawe gehad om mense met haar pragtige geaardheid na haar toe aan te trek,” voeg Williams by.
Nog ’n onderwyser, Jo-Ann Pharo, sê die naam Terry van Schalkwyk is sinoniem met opregtheid en nederigheid. “Sy was baie lief vir deel en gee sonder om iets terug te verwag.
Sy was soos ’n suster-vriendin vir my en ons kon alles, maar alles, deel. Vir my het sy nie ’n hart van goud gehad nie – sy het ’n hart van diamante gehad wat vanself geskitter het. Jou nalatenskap en herinneringe sal gewis voortleef.”
Haar familie beskryf haar ook as iemand wat ’n hart van goud en ’n goeie sin vir humor gehad het.
Wat gaan hulle die meeste van haar mis? Gewis haar eksotiese disse, haar liefde vir haar familie, haar lag en soveel meer, meen die familie.
Terry word oorleef deur haar man, Garett, haar twee seuns, Tashwell en Geno, asook haar twee skoondogters, Demi-Lee en Jannike. Die begrafnisdiens begin om 11:00 in Apollostraat, Vredenburg, en gaan om 12:00 voort by die VGK in Louwville.





