Miljoene vir infrastruktuur, triljoene se belastinginkomste en ’n paar rand vir maatskaplike toelaes, maar wat beteken die nasionale begroting nou regtig vir jou sak?
Tussen die covid-pandemie, onluste en korrupsie trek die Suid-Afrikaanse ekonomie swaar soos die minister van finansies, Enoch Godongwana, verlede Woensdag in sy begrotingsrede verduidelik het.
Ten spyte van die triljoen rande genoem, sal ’n paar kleiner bedrae Jan en San Alleman se beursie raak.
Watter voggies ook al die voorkeur is, maak gereed vir ’n 4,5%-6,5% styging in prys. Bierdrinkers sal 23c meer moet opdok terwyl wyndrinkers (11c) en drinkers van hardehout (36c) ook moet gereed maak om meer uit te gee.
Dit terwyl wynbedryfsliggaam Vinpro die minister gevra het om nie alkoholpryse buitensporig te verhoog nie. “In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf hom bevind, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en ondersteuning nodig,” het Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof, in ’n verklaring gesê.
“Die realiteit is dat die verbruiker nie noodwendig deur aksynsverhogings geraak sal word nie, aangesien kleinhandelaars dikwels nie die volle verhoging in hul kleinhandelverkoopprys implementeer nie, wat weer beteken dat wynkelders en wyndruifprodusente die res van die kosteverhoging moet absorbeer, saam met die ander verhogings wat hulle reeds in die gesig staar. “Ons het ook gesien dat ’n verhoging in aksyns (8% verhoging in 2021) onwettige handel (reeds 22% van die binnelandse drankmark) aanwakker in plaas daarvan om as afskrikmiddel te dien vir diegene wat nie wyn op ’n verantwoordelike manier verbruik nie.”
Op hul beurt sal rokers R1,16 meer vir hul sigarette moet betaal terwyl pyptabak 36c duurder sal wees.
Godongwana het aangekondig, vir die eerste keer in 32 jaar, dat daar nie ’n addisionele brandstofheffing sal wees nie. Dit was dalk ’n verligting, maar motoriste moes van Woensdag steeds R20,88 vir ’n liter 95-oktaan-petrol betaal, wat beslis hul sak sal ruk.
Vir diegene wat op die regering staatmaak vir ’n inkomste sal daar ’n paar ekstra rande wees. Maatskaplike toelaes vir bejaardes en gestremdes sal R90 meer kry, met nog ’n addisionele R10 vir bejaardes wat in Oktober kom. Kinderstoelae is op met R20.
Plaaslik sukkel vele Weskussers nog om finansieel van die pandemie te herstel. Een sektor wat egter bly sal wees met die addisionele R360 miljoen wat uit die staatskas kom is toerisme. Volgens André Truter, burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is toerisme ’n manier om die plaaslike ekonomie weer aan die gang te kry. “Mense wil in die Weskus wees of dit vir besoek is of om hier hul afstandwerk te doen. Ons toerismesektor het geweldig gebloei weens die pandemie en almal van jeugdiges tot broodwinners wat in die sektor werk, het gely,” het Truter na afloop van die provinsiale wetgewers se openingsrede gesê.
Altesame 13 dorpe aan die Weskus se primêre ekonomiese bedryf is toerisme volgens die Weskus-distriksmunisipaliteit se 2021 Integrale ontwikkelingsplan.



