’n Motor wat in Limpopo gesteel en in Durban verkoop is, is in Langebaan teruggevind.
Sers. Riana du Preez van Weskus se landelike blitspatrollie het Maandag 20 Junie omstreeks 14:30 ’n wenk ontvang dat ’n vermoedelik gesteelde silwer Volkswagen Polo in die Langebaan-omgewing gesien is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die plaaslike polisiekluster, het Du Preez die voertuig opgespoor en deurgesoek.
By nadere ondersoek is vasgestel ’n inwoner van Langebaan het dié voertuig vroeër vanjaar in Durban by ’n motorhandelaar gekoop.
Die polisie het toe ontdek dat die voertuig oorspronklik wit was en in Polokwane, Limpopo, as gesteel aangemeld is.
Speurders van Stellenbosch se voertuigdiefstaleenheid ondersoek nou die saak omdat die moontlikheid bestaan dat die voertuig se amptelike dokumente “gekloon” is.




