“Jy wat nie sonde het nie, gooi die eerste klip.”

Hierdie vrye Bybelse aanhaling het die afgelope tyd swaar by my kom spook. Ek wil glo dat daar ander godsdienstige affiliasies is wat ook na hierdie aanhaling verwys en dit in die besinning en beoefening daarvan probeer nastreef of uitleef in die praktyk. Vanwaar dan nou my spook van êrens af?

Ek het die voorreg gehad om die hartverskeurende maar ook hoopvolle storie van ’n persoon neer te pen. Dit is die storie van volslae dwelmafhanklikheid. Dis ’n storie wat in ’n groot mate die werklikheid weerspieël wat daagliks in ons provinsie en in ons land afspeel. Die seerkry (dalk) iewers in die verlede. . . of dalk nie. Dalk was dit blote groepsdruk. Die redes kan legio wees. Die eerste poging om te eksperimenteer met ’n “onskuldige” soort dwelm om die wortel van die seer en pyn te verdoof. Die web wat vorm aanneem en al wyer en wyer uitkring. In my persoon se storie was dit ’n pynlike seer wat op ’n baie vroeë ouderdom ’n permanente letsel gelaat het.

Rehabilitasie het die antwoord geword toe die probleem heeltemal handuit geruk het. En toe die opstaan-en-val-episodes. In en uit rehabi­litasie-sentrums. Die vieslike kloue van die dwelmverslawing wat net erger en erger raak. Tot so ’n mate dat my persoon se biologiese familie nie eens meer kans sien om daar te wees nie. Die uitkring-effek van die verslawing het uiteindelik my persoon tot ’n bestaan op straat gereduseer. Dalk ’n aalmoes van iemand wat die hart het om ietsie te ete met my persoon te deel. Dis ook hier waar die geveg om oorlewing sy brutale koue gesig begin wys. Alles sal gedoen en ingespan word om die volgende fix in die hande te kry.

My persoon se storie lees soos ’n riller-rolprent. Dis asof ek die Ellen Pakkies-fliek van voor af sien. Met die lees van my persoon se storie word ek opnuut bewus van die soveel kere in die verlede dat ek myself wys gemaak het dat die probleem ’n harde werklikheid in ons samelewing is, maar dat ek darem nie nodig het om direk betrokke te raak nie. Dis helaas mos ’n keuse wat die persoon vir hom of haarself gemaak het. My persoon se storie het finaal hierdie siening van my op sy kop kom draai. Ek kan of wil nie meer stilbly nie, want iewers in die annale van my eie geskiedenis het ek ook eens die hartseer en seermaakkloue van alkoholisme aan huis ervaar. Moes my tiener-seun oë aanskou hoe die monster net nie wil weggaan nie. En hoe die stille gebede van ’n ma die anker moes bly vir haar gesin om te oorleef.

Statistieke nasionaal kleur die prentjie van dwelmverslawing nog meer somber in. Gauteng en die Wes-Kaap neem die voortou. My bronne wat ek naslaan om hierdie samelewingsproblematiek beter te verstaan, bevestig ’n paar harde werklikhede. Beskikbaarheid van dwelms, familiegeskiedenis met dwelms, armoede, werkloosheid, negatiewe invloede en die gebrek aan ouerleiding is van die faktore wat daartoe bydra dat ons huidige prentjie so duister daar uitsien. Nog ’n duidelike indikator is dat die hartseer van dwelmverslawing aan enige deur kan klop. Dit het absoluut geen respek of voorkeur van ras, geslag, ouderdom, godsdienstige affiliasie, sosiale status, rykdom of armoede nie. Dit het net een eenvoudige agenda en dit is om ’n persoon te vernietig en in die proses soveel skade moontlik aan te rig en bestaande verhoudings te laat verbrokkel. Dit wil dorpe, gemeenskappe en provinsies afbreek tot daar byna niks oorbly nie.

Ons hoef nie nog ’n debat te voer oor of ons provinsie, gemeenskappe en gesinne ’n krisis in die gesig staar nie. Nee, want die krisis is reeds hier. Ons almal ken iemand wat iemand ken wat vasgevang is in die kloue van dwelmverslawing. Dis my en jou respons op die krisis wat nou meer as ooit tevore saak maak. Ons kan nie meer wegkyk en maak asof die probleem nie bestaan nie of dat dit nie jou gesin of familie se probleem is nie. Die ironie is dat, of dit jou direk raak of nie, die probleem uiteindelik ons almal se probleem word.

Ons kan of mag nie meer stilbly hieroor nie, want my hart bloei vir daai gemeenskap waar ons jongmense wat vasgevang is in die web van dwelmverslawing nog ’n keer sinlose skade aangerig het by die plaaslike kerk. Waar die groente en ander apparate wat die nood van die armes sou verlig geroof en geplunder word. En ons mense ly honger . . .

Die kompleksiteit van die uitdaging is massief. Ons kan nie die vinger wys na sekeres in die gemeenskap nie.

Die oplossing, glo ek, moet omvattend van aard wees. Dit vra vir ’n deernisvolle, dog ferm benadering as ons enigsins die oorlog teen hierdie euwel in ons gemeenskappe wil hokslaan. Ek weier om ná my persoon se storie ooit weer anderpad te kyk, want . . .

“Jy wat nie sonde het nie, gooi die eerste klip.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article