Trekoskraal, histories Vredenburgers se strand, mag nou net besoek word om in te swem en te stap.Foto: Anel van der Merwe/Facebook


Weskus-families wat al geslagte lank oor Desember by Trekoskraal kamp, sal maar moet leer saamleef met die diep emosionele wond wat die verbod op kampeer én die aansteek van braaivleisvure veroorsaak.

Soos sedert grendeltyd in 2020 die geval is, sal daar dié feestyd ook slegs beperkte ontspanningsaktiwiteite soos stap en swem in dié admiraliteits­reservaat tussen Paternoster en Jacobsbaai toegelaat word.

André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het aangekondig dat Trekoskraal nie deur die munisipaliteit as ’n kampeerterrein afgebaken is nie, maar slegs as ’n openbare gerief beskou word.

Ingevolge munisipale verordeninge word geen “ongemagtigde aktiwiteite” soos ry op die strand, kampeer en vuurmaak op die strand toegelaat nie.

SBM verbied, in ooreenstemming met nasionale regulasies, oornagkampering streng en voertuigtoegang is beperk tot die aangewese grondpaaie en nie oor die strand, private eiendom of duine nie.

’n Admiraliteitsreservaat is die strook grond wat van die hoogwatermerk op die strand die binneland in loop, gewoonlik tussen 45-60 meter breed. Die nasionale departement van openbare werke bestuur dié stuk staatsgrond waartoe openbare toegang nie geweier mag word nie. Die Trekoskraal-admiraliteitsreservaat word fyn dopgehou, het Truter verseker. Diegene wat die reëls oortree, kan gevolge in die gesig staar, soos boetes of in uiterste gevalle inhegtenisneming deur die polisie.

Truter wys daarop dat Suid-Afrikaanse wetgewing sedert 2001 voertuie verbied om op strande te ry juis om kusduine te beskerm en om die omgewing en argeologiese integriteit te bewaar.

Volgens Truter kan munisipale amptenare nog nie oortreders se voertuie skut nie, maar konsepverordeninge is in die pyplyn om daarvoor voorsiening te maak.

Bykomende waarskuwingsborde om die beperkte sones duidelik af te baken, word tans aangebring. Truter het die vandalisering van naamborde wat voorheen aangebring is, ten sterkste veroordeel en ontmoedig.

Hy voorsien dié feestyd gereelde strandpatrollies en inspeksies, ondersteun deur kameras van die 24-uur- munisipale beheerkamer.

Boetes kan onder meer uitgereik word vir die oprigting van strukture of heinings sonder toestemming (R2 500), onwelvoeglike ontbloting (R500) of om klippe of voorwerpe na mense te gooi (R1 500). Vuurwapens mag ook nie daarheen geneem of afgevuur word nie.

Truter wys daarop dat verskeie departemente verantwoordelik is vir die toepassing van omgewingswetgewing by Trekoskraal. Dit sluit die departement bosbou, visserye en omgewing (DFFE) en visserybeheerbeamptes van verskeie regeringsfere in.

Boetes gaan ook uitgereik word vir visvang sonder ’n permit (R500 plus per eenheid vis of weskuskreef).

Die departement van omgewing, oseane en kuste kan ook boetes wat wissel van R500 tot R2 500 uitreik vir die oortreding van regulasies vir veldvoertuie.

Truter doen ’n beroep op die gemeenskap en besoekers om hierdie regulasies te respekteer en Trekoskraal se skoonheid en ekologiese integriteit te bewaar.

  • Vir meer inligting oor die verordeninge en regulasies, kontak wetstoepassing by 022 701 6912, Maandae tot Vrydae, gedurende kantoorure.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article