Die hofsaak van ’n Lesotho-burger, wat teregstaan weens die moord op Pierre (59) en Belinda de Kock (56) van Aurora, is weer uitgestel.

Phindile Khaya Pone, ’n voormalige werker op die De Kocks se Holvlei-teeplaas, het Woensdag 22 November tydens sy vierde verskyning in die Laaiplek-landdroshof gehoor hy kry nie borgtog nie. Hy het intussen ’n tolk en ’n regsverteenwoordiger gekry.

Volgens SP Tredoux van die Sandveld-landbouvereniging het die verskeie petisies wat verteenwoordigers uit verskillende sektore van die Sandveld- en Weskusgemeenskap met sy eerste verskyning ingedien het om die borgtog teen te staan, gewis bygedra dat dit geweier is.

Pone staan tereg op twee aanklagte van moord. Die De Kock-egpaar is Vrydag 2 Junie wreedaardig vermoor – Pierre in die gebou wat hul plaaswinkel huisves en Belinda in die hoofslaapkamer. Hulle het aan sny- en kapwonde beswyk.

Die polisie vermoed hulle is die Vrydag laatmiddag vermoor, maar hul lyke is eers die Sondag ontdek.

Twee ander verdagtes, wat moontlik met die moord verbind kan word, word nog gesoek.

Pone kom weer op 25 Januarie voor wanneer die saak na verwagting na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article