Twee kwessies het die afgelope twee weke baie aandag, emosie en debat aan die Weskus ontketen – grootliks omdat dit talle aan die Weskus se brood en botter raak.
Die skielike implementering van ’n wet wat al in 2005 gewysig is en bepaal dat kwitansies uitgereik moet word aan mense wat snoek koop en vervoer, het behoorlik die tonge laat klap (“Wet: Snoekkoper moet bewys kry”, Weslander, 11 Mei 2023).
Die uitwerking daarvan is nie noodwendig so groot op die aankopers as die verkopers nie – mense wat reeds skraap om net ’n inkomste te verdien en skielik voorsiening moet maak vir kwitansieboekies om ’n bewys van aankope aan die koper te verskaf. Die vraag ontstaan ook oor hoekom ’n wet wat vir byna twee dekades nooit uitgevoer is nie, nou skielik afgedwing word?
Die ander kwessie het sy oorsprong uit ’n handjievol inwoners wat kla oor die visreuk van ’n bepaalde visfabriek wat van tyd tot tyd oor St. Helenabaai hang (berig op bl. 2).
Waarskynlik die grootste meerderheid van die dorp se ekonomie en werkskeppingsgeleenthede het sy oorsprong uit die visfabrieke in die dorp.
Hoewel niemand ’n visreuk in hul klere waardeer nie, moet die voorbestaan van die dorp se ekonomie en sy mense sekerlik voorkeur geniet.
Hierdie is immers die Weskus.




