Elke huis het sy kruis.

Wees daarom altyd vriendelik teenoor ander, want jy weet nie waardeur daardie mens worstel nie.

Daardie “nors kassier” se kind is dalk ernstig siek by die huis of dalk hanteer klante haar in die algemeen met minagting en het sy net ’n glimlag en ’n kompliment nodig om haar dag op te kikker. Wees jy daardie mens wat ’n verskil in iemand anders se lewe maak, al is dit net om te vra of hulle oukei is.

Moenie ’n klein gebaar van vriendelikheid en liefde onderskat nie.

Kom ons dink ’n bietjie minder oor ons eie sorge en reik uit. Wanneer jy elders as op jou eie probleme fokus, raak jou eie las ook sommer ligter. Daar is soveel genesing in liefde uitdeel aan ander om ons eie hart ook weer heel te maak.

Skenk bloed, neem die klere wat jy nie meer dra nie en nog in ’n goeie toestand is na jou naaste liefdadigheidswinkel. Daar is regtig so baie klein dingetjies wat jy vir jou medemens kan doen. En natuurlik is sommige van ons bereid om groter dinge vir ander te doen.

Lees gerus klein Gracey Green se hartseerstorie op bladsy 3. Sy het dringend ’n stamseloorplanting nodig en haar familie reik na die gemeenskap uit om na ’n skenker te soek.

Sy het net ’n een uit 100 000 kans dat ’n geskikte skenker gevind sal word. Hoe meer mense as skenkers registreer, hoe beter is Gracey se kans op oorlewing.

Laastens, gee sonder om iets terug te verwag, maar moenie gee om erkenning te kry nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article