“Geloofsbelydenis van ’n visserman” – geskryf deur ds. Kotie Kritzinger.
Ek glo in God die Vader,
die Stuurman van die skepping;
wat oseane geskep het tot voordeel van die visserman;
wat die vis van die see wat die oseane deurkruis, voorsien
tot dekvrag vol en nette wat wil skeur.
Ek glo in Jesus Christus,
die Stuurman van my boot;
wat deur donker nagte en toemis heen
my boot stuur op die baken van veiligheid;
na Wie die winde en die golwe luister
en stil raak op Sy bevel.
Ek glo in die Heilige Gees,
die Stuurman van my hart;
wat in die storms van lae kwota’s en swak seisoene
my die kalmte van ’n rustige see gee;
wat my lei tot aanvaarding van goed en sleg,
voorspoed en teëspoed;
wat my die dankbaarheid gee vir onverdiende guns;
wat my dag na dag laat moed hou en hoop op die dag van môre.
Ek glo in die enigste lewende God; wat sin gee aan my vissermansbestaan
en Skipper is van my lewensboot;
wat met die laaste uitvaar van my boot op die oseaan van hierdie lewe
my boot sal stuur tot die dagbreek van ’n nuwe oseaan van ewige vrede.
Amen





