Pas jouself mooi op, want niemand anders gaan dit namens jou doen nie.
Eendag, ’n klompie jare gelede, het ek myself by ’n kruispad bevind. Dit was die beginjare van my beroepslewe. Ek het elke oomblik daarvan geniet, maar iewers het die politiek in die werksplek vir my net een te veel geraak. Vir die eerste keer in my lewe kon en wou ek nie meer voortgaan met die werk waarvoor ek so lief was nie. My moermeter was tot sy uiterste gedryf. Ek moes ’n skoon breuk van alles en almal neem. Ek het ’n nuwe seisoen in my lewe broodnodig gehad. Indien nie, sou ek seker iemand of iets te lyf gegaan het. Ken jy ook daardie gevoel?
As ek vandag terugkyk, dan is ek dankbaar dat ek wel die skuif gemaak het, al was dit ook hoe moeilik. Ek het in myself nodig gehad om iewers oor te begin. Hierdie oorbegin het vir my gebeur in die vorm van ’n paar maande se wegbreek na ’n land ver van my eie. Ek was dankbaar dat ek met hierdie wegbreek nog steeds my verbintenis kon hê met hulle vir wie ek so lief is en so baie voor omgee – kinders en jongmense. In my wegbreekspasie het ek ook die heling ervaar waarna ek in daardie stadium so gesmag het.
Die ervaring was ’n uiters welkome een. Die persoonlike groei en versorging wat ek in daardie tyd ervaar het, sal ek met geen geld in die wêreld kan vergelyk nie. En glo my, ek onthou dit nog asof dit gister gebeur het. Daar is ’n hoopvolle baken vir my geplaas wat ek vir ewig in my gees sal koester.
Soos die jare aangestap het, het die nuwe uitdaging homself weer te voorskyn gebring, maar elke keer het die wysheid vermeerder om elke nuwe uitdaging (beroepsgewys) beter te kon hanteer. My geaardheid was maar nog altyd om onvoorwaardelik van myself vir my medemens te gee. Daarmee saam het ek nog altyd ’n diepe roepingsbewustheid gehad vir enige werk waarby ek betrokke was. Hierdie roepingsbewustheid het my nog altyd uitgedaag om my alles te gee vir die saak waarby ek betrokke was. Op die harde manier het ek darem ook die noodsaaklikheid van persoonlike grense aangeleer. Maar soms, net soms, oorskry ons daardie grense op ’n baie subtiele wyse. Jy het dit nooit so bedoel nie, maar toe gebeur dit en jy bevind jouself weer teen die toue. Hoe nou gemaak?
Dis presies wat weer in my geval gebeur het. Die werksywer is daar. Die energie om die werkslading aan te pak is daar en die houding van “bring it on” en maak die bord vol is teenaan. Ek meen maar, dis wie ek is. Ek is mal daaroor om daai aftiekwerk te doen en die gevoel van satisfaksie te hê as nog ’n projek suksesvol afgehandel is. Dié keer het ek myself ooreis. Die gevaartekens was daar. Ek kon en wou nie meer dink nie. Ek kon en wou nie meer doen nie. My liggaam het die noodseine uitgestuur dat ek iewers sal moet afskakel. Met my hart en kop op die regte plek het ek gehoor gegee aan daai noodsein.
Daar was ’n prys op die spel, maar dit kon ek aanvaar, want vir die eerste keer ná ’n baie lang tyd was ek vinnig op pad om myself geheel en al uit te brand.
My periode van rus was hemels. My liggaam het ná ’n paar dae se rus weer sy ou self begin voel. Dit was die kopdeel wat langer geneem het. Dis darem wraggies ’n ander soort ervaring as jy breinmoeg is. En soos eendag baie lank gelede het ek nog ’n keer nodig gehad om ’n kreatiewe helingspasie te vind waar ek weer na siel en liggaam kon herstel. Ek is dankbaar vir die fonteine van wysheid waaruit ek hierdie keer kon drink.
Ek is so dankbaar dat ek hierdie keer nog makliker sal kan nee sê vir daai ekstra projek of taak wat almal so aantreklik en winsgewend klink en lyk, want daardie einste ekstra projek of taak het my amper die verlies van gebalanseerde geestesgesondheid gekos.
Wat was my reddingsboei vir hierdie episode in my lewe? Een daarvan sal beslis die leuse van my alma mater, Hugenote Kollege, wees en bly – gebed, roeping en diens. Hierdie leuse in balans, glo ek, het my staande gehou.
En as ek ’n voorraadopname moet doen van dit wat ek skynbaar in die proses verloor het, dan vat ek die vrede daarmee, want ek kies om myself eerste te stel (let wel nie op ’n selfsugtige manier nie). Dink maar aan jouself daar by jou werk waar jy jouself so opoffer vir alles en almal. As jy oormôre nie meer daar is nie, sal die einste werkgewer ook maar net sê – aai foeitog, wat ’n verlies – en die week daarna is daar iemand anders in jou plek!
Wel, ek hoop ten minste dat dit nie so is in jou geval nie.
Pas jouself mooi op, want niemand anders gaan dit namens jou doen nie.





