Die feestyd is weer sterk op pad hier buite.
Loop stap maar ’n draai in die meeste winkelsentrums. Oral is die Kersbome al weer skougehalte, die spesiale aanbiedinge gil vir aandag en by meer as een winkel weergalm die hoë Krismisnote van suster Mariah Carey luidkeels. Jy gewaar sommer daai naderende feestelikheid in die huppelstap van mense hier skuins voor die groot dae.
Klerewinkels word bestorm om die lay-buy vir die kinders se Krismisklere in te sit. Die kloegoed bly natuurlik nie agter nie en wys na elke tweede geskenk op die rak wat gekoop moet word vir die groot oopmaak-makietie onder die Krismisboom. En al wat ek dink is – bly net weg van daai swart plastiekskoetertjies wat so ’n alewige geraas maak. Ai, en hier verklap ek nou my knap-ná-veertig sindroom – ons soek net ’n bietjie rus, vreugde en vrede in die feestyd asseblief!
Met die feestyd op pad verlang die meeste van ons ook na daai welverdiende wegbreek iewers heen. Wel, dis nou vir dié van ons wat dit kan bekostig.
Die res moet dan maar die vrede vat met daai daguitstappie see toe of ’n swembad-lafenis iewers by ’n plekkie waar iemand jou behoefte aan ’n klein bietjie rus en vrede sal verstaan.
Gepraat van wegbreek see toe. ’n Goeie vriendin herinner my onlangs aan so ’n einste wegbreek see toe ’n goeie klompie jare gelede. Die begroting vir die wegbreek was maar skraal, maar die behoefte aan daai wegbreek was groot. Die kampstyl-wegbreek was hemels.
Ons was vir ’n lekker drie dae ingeboek vir ons see-en-kamp-bederf. Die enigste uitdaging was daai laaste dag se fooi wat nog betaal moes word. Tussen ons paar vriende kon ons bloot nie met daai ekstra paar rand vorendag kom nie.
Toe die noodgedwonge plan. Gaan span maar uit langs die strand. Neem ’n boek saam en lees lank en stadig. Hou die koeldrank en eetgoedjies langsaan, want dit gaan ’n laaaang ontspan wees voordat die meneer wat die dagbesoekers se footjie moet ontvang almal besoek het. Hy het so gedoen en ons tent was leeg. Ons is daai middag met ’n spoed daar weg. Ai, die jeug en sy onskuld. Ons het darem die volgende jaar teruggekeer na ons gunsteling-kampeerplek by die see en op die laaste dag ’n ekstra ruim fooi betaal. Sommer om dankie te sê vir die lekker kuier by die see.
Nog so ’n vakansie-wegbreek Weskus toe saam met dieselfde klompie vriende was epies. Niks is beplan nie. Die jongmens-begroting was maar weer baie eina. Ons het by ’n pragtige huis naby die see opgedaag. Die eienaar was baie vriendelik. Hy het ons jammer gekry toe ons verduidelik dat die kampterrein vol geboek was.
Die beste wat hy kon doen, was om vir ons die oop area van die plot langsaan aan te bied. Dit was ’n onvergeetlike kuiertjie. Onder die sterrehemel het ons potjiekos heerlik geprut en die ritmiese klanke van “Heavens Know” deur Yolanda Adams het die Weskus se aandlug vrolik gevul.
Tussen toe en nou het soveel al verander.
Kos- en petrolpryse het astronomies die hoogtes ingeskiet. Daai jaareind-wegbreek iewers heen moet ekstra fyn beplan word, want genugtig weet – “Januworry” lê en loer om die draai. Ek het myself juis so ’n paar dae gelede byna in ’n ander bloedgroep in gelag vir ’n plasing van iemand hieroor op sosiale media. Met toestemming leen ek dit graag.
“Dis amper weer Desember en dit beteken mos bonustyd vir die meeste werksmense. Shasha verander weer na Stuyvesant. Pajamas raak vol stof, want almal wil net uitgevat wees. Die vierde straat verander in Johnny Walker. Die ‘ek haat om alleen te wees’-status verander na ‘ek’s mal daaroor om enkel te wees’. En ‘in my snoesige bed’ verander na ‘ingeboek by ’n nagklub’. Die All Stars-tekkies word weggegee en almal wil net afkyk na die nuwe Nikes. Die broodblik word vol stof, want die rooster bly warm. Jy vergeet van pom-poms, want die ‘chatterbox hairdresser chommie’ laat mos alles wip en skud. Jou lyfie wil net beweeg, want daar is elke dag iets om te doen. Ja nee, laat die windjie waai, want die festive is op pad.” Geniet dit, want . . . Januarie bak ons in die son met ’n drink o’ pop, twee snye konfyt-en- grondboontjiebotter-brood, two minute noodles en wag vir ’n skuif van daardie Shasha . . . en dalk ’n dop Hansa en luister na Bella se “Hou my trou, liewe Heiland, hou my trou!” Nou ja, niemand is mos lus vir daai trappe van vergelyking wat Januariemaand inhou nie.
So, met die feestyd om die draai is dit goed en lekker om daardie wonderlike onthou-oomblikke te skep saam met familie en vriende. Geniet dit, wees veilig en hou kop. Gaan bêre liefs daai ekstra klompie bonusgeldjies onder die matras, want o, Krismisboom . . . Januarie lê om die draai.





