“Hy sou nie kans gehad het om te reageer of eens geweet het wat hom tref nie.”
Só meen Elowayne Gouws, ervare paramedikus van West Coast Medical Rescue (WCMR), een van die eerste mense Vrydagmiddag (24 November) op ’n ongelukstoneel naby die brug tussen Langebaan en Saldanha, waarin sers. Grantham “Kazzara” Snyman (45) van Vredenburg dood is.
Snyman was die afgelope ses jaar werksaam by die Spesiale Magte op Langebaan.
Die ongeluk het omstreeks 14:00 gebeur, net voordat hy ná werk sy dogters sou opgelaai het. Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, is Grantham op slag dood.
Gouws het verduidelik dat ’n platbak-sleepwa vol houtitems Grantham se alombekende rooi 2002 Volkswagen Polo reg van voor getref het. Die Polo se dak is deur die impak afgeskeur nadat die sleepwa, van sowat drie meter lank, losgekom het van die bakkie wat dit gesleep het.
Die bakkie was in die teenoorgestelde rigting as die oorledene onderweg toe die sleepwa se veiligheidspen vermoedelik losgekom en dit op spoed in die oorkantse baan inbeweeg het, reg voor Snyman se aankomende motor in.
Die sleepwa en motordak het sowat 100 m van die onderste deel van die motorwrak, waaruit die oorledene met masjinerie gesny moes word, beland.
Dit was volgens Gouws een van die grusaamste ongelukstonele wat hy nog moes hanteer.
Volgens omstanders was die bejaarde bestuurder van die bakkie sigbaar ontsteld en getraumatiseerd weens die gebeure.
Hy sou net gou die houtartikels in Langebaan gaan aflewer het.
Glen Snyman, ’n onderwyser op Oudtshoorn en Snyman se tweelingbroer, het gesê Grantham was ’n rekenaarboffin. “Ons is almal lam, lam, lam. Dit is so onverwags.”
Hy beskryf hom as ’n aangename mens, ’n lekker broer wat baie beskermend was oor die mense vir wie hy lief was. Hy het op skool gekeer dat sy “ouer” tweelingbroer geboelie word.
“Baie mense was regtig lief vir Kazzara. Hy was ’n mense-mens wat baie omgegee het vir ander. Hy was ’n familieman, ontsettend lief vir sy vrou en kinders, sy ma en pa, broers en susters.”
Volgens Grantham se vrou, Ladophica (Phica), was hy “die een wat die lag in die huis ingebring het”.
Hul twee dogters is Peunay-Jade (20), ’n student by Weskus Kollege, en Luchea (16), ’n leerder aan die Hoërskool Vredenburg.
Luchea moes Woensdag 29 November haar eerste verjaarsdag sonder haar geliefde pa vier. Hy was altyd die een wat vroeg op verjaarsdae opgestaan het; ’n oggendmens; die een wat altyd verseker het dat almal gelukkig is. “Hy was besonders.”
Die Polo was soos hul “babaseun” en Grantham was baie erg oor die motor wat hulle in 2014 gekoop het.
Die egpaar het 22 jaar gelede in Eersterivier ontmoet terwyl Grantham daar gestasioneer was. Hy het ook by Wynberg en die 2 Militêre Hospitaal gewerk.
Benewens sy tweelingbroer en sy ouers, Willie (81) en Katie (79) Snyman, laat die oorledene ook sy susters, Merlene en Estelle, en broers, William en Alvin, agter.
Daar word ’n militêre roudiens op Woensdag 6 Desember gehou, ’n huisroudiens op Donderdag 7 Desember en die begrafnis vanuit die PPK op Vredenburg vind op Sondag 10 Desember plaas.
Die polisie se forensiese span het die toneel gefynkam vir getuienis in die saak van strafbare manslag wat die Saldanha-polisie nou verder ondersoek.
Lede van EMS en die Saldanhabaai-munisipaliteit se brandweer en verkeersdienste het ook bystand gelewer.





