Sy ontvang haar inspirasie van reg rondom haar.
Só vertel die fotograaf Felicia Adams.
Dié inwoner van Vredenburg glo foto’s is ’n skepping van herinneringe wat vir altyd vasgevang word.
Haar belangstelling in fotografie het omtrent twee jaar gelede ontwikkel en sy het dit al hoe ernstiger begin opneem. Adams het in 2021 besluit om ’n kamera aan te skaf om haar liefde vir fotografie verder te neem. Sodoende het sy ook Adams-fotografie gestig.
Sy onthou en vertel graag oor een van haar grootste uitdagings – toe ’n kliënt haar vra vir ’n verjaarsdag-fotosessie net toe sy begin bekend raak en meer oor fotografie leer. Die vertroue wat die kliënt in haar gehad het en die feit dat die kliënt iemand plaaslik wou ondersteun, het Adams moed gegee.
“Ek was wel senuweeagtig, maar die oomblik toe ek in die saal instap om die fotosessie te doen, was ek in my element,” vertel sy. Sy neem graag verjaarsdagfoto’s, landskapfoto’s, troufoto’s en meer.
Adams sê fotografie bied ’n mens baie geleenthede en open deure. “Om nuwe mense te ontmoet, hul positiewe energie te ervaar en die gelukkigheid en opgewondenheid van kliënte ná die eindproduk te sien, is gewis ’n hoogtepunt.”
Adams glo wat van iemand ’n goeie fotograaf maak, is die vermoë om ’n verbintenis met kliënte te hê. “Dit gaan nie altyd oor die geld nie, maar oor die verbintenis. Almal gaan tans deur ’n moeilike tyd en nie almal het noodwendig die geld vir ’n fotosessie nie. Kom ons help mekaar waar ons kan.”
Adams is ook bly oor en trots op die steun wat sy van haar man, Owen, ontvang.
Op haar reis vorentoe wil Adams haarself meer bevorder in haar fotografie en aanhou om mense se stories deur foto’s te help vertel.
Sy moedig diegene aan wat ’n passie het – maak nie saak in watter veld nie – om nie te huiwer om te doen waarvoor hulle lief is nie.


