’n Fietsryer wat deur die gemeenskap daarvan verdink word dat hy die berugte BMX-selfoongrypdief in Vredenburg is, se foto word op sosiale media versprei. Dit is maar ’n enkele voorbeeld waar gemeenskapslede geregverdig voel om dit te doen in ’n poging om ’n moontlike skelm vas te trap, in hegtenis te laat neem en te vervolg.
Die Langebaan-polisie waarsku egter dat dit onwettig is om foto’s en/of videomateriaal van gesoekte mense of iemand wat vermoedelik ’n misdaad gepleeg het, te versprei. Die plaaslike polisie sê in ’n persverklaring dit word “met kommer” opgemerk dat hierdie soort materiaal wyd versprei word. Hulle versoek dat lede van die publiek hulle daarvan weerhou om sulke foto’s of videomateriaal te sirkuleer aangesien dit ondersoeke ernstig kan belemmer, die verhoor onbillik kan maak en tot vryspraak of terugtrekking van die saak kan lei.
Volgens Crime Watch neem lede van buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye sowel as gemeenskapspolisiëringsforums dikwels foto’s van verdagtes op misdaadtonele, wat jy mag doen, maar die oomblik as jy die foto aan iemand anders stuur of dit op sosiale media-platforms plaas, word dit as “gepubliseer” beskou.
Dit kan die plaser en mense wat dit aanstuur hewige boetes, tot 12 maande gevangenisstraf of ’n massiewe siviele geding op die hals haal.
“In gevalle waar die persoon wat gearresteer is onskuldig is, maar as gevolg van die gepubliseerde foto as ’n misdadiger uitgebeeld word, het die gemeenskap eie reg gebruik, wat tot vigilante-optredes kan lei. Wanneer so ’n foto gepubliseer word, kan die plaser hom- of haarself ook aan die ontvangkant van ’n lastergeding laat beland.”
Artikel 69 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995, soos gewysig in 1997, bepaal onder meer dat niemand sonder die skriftelike toestemming van die nasionale of provinsiale kommissaris ’n foto of skets van iemand wat daarvan verdink word dat hy ’n misdryf gepleeg het, mag publiseer nie. Volgens Artikel 35(3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, het “elke beskuldigde die reg op ’n regverdige verhoor”.
Die publikasie of sirkulasie van sulke foto’s en videomateriaal is dus onwettig.
The Conversation verduidelik in ’n artikel dit is ’n strafregtelike oortreding van die Strafproseswet om beweerde oortreders te identifiseer voordat hulle gepleit het.
“As die persoon wat onregmatig geïdentifiseer is jonger as 18 jaar is, kan die tronkstraf tot vyf jaar wees.”
Die Langebaan-polisie doen dus ’n beroep om samewerking van die publiek, veral die bystand en samewerking van die “admins” op sosiale mediagroepe.
’n Weslander-leser, Andries Brand, skryf op Facebook dat dit die rede is waarom die misdadigers “so lekker lewe, want hulle word wetlik beskerm”. Adri Költzow Lategan vra weer hoe hulle dan anders gevang gaan word “as ’n mens nie hul foto’s of video van hulle op Facebook of waar ook al mag share nie”? Ene Williams Repairs meen dat die wette die oortreders beskerm en die slagoffer van misdaad word misken.
Hy meen dit is waarom mense deelneem aan “bundu justice”.
Mense met inligting oor misdaad wat gepleeg word of reeds gepleeg is, insluitend foto’s en videomateriaal van mense wat moontlik by die pleeg van die misdade betrokke is, word versoek om hul naaste polisiekantoor te kontak.



