Die formaat van die Saldanhabaai-munisipaliteit se raadsvergaderings laat sommige raadslede erg onthuts.
Die munisipale raad se maandelikse raadsvergaderings word deesdae deels in lewende lywe en deels aanlyn gehou met die meeste raadslede wat aanlyn inskakel.
Dit blyk egter nie almal is tevrede met dié stand van sake nie en lede van opposisiepartye meen die vergaderings moet terugkeer na ’n formaat waar almal fisiek teenwoordig is.
Volgens die munisipaliteit is die formaat van die vergaderings verander ná die aanval op raadslid Sibusiso Gqeba, die raadslid vir Wyk 9 (Ongegund, Vredenburg).
Gqeba is verlede September geskiet toe hy as passasier in ’n motor in Louwville onderweg was. ’n Verdagte het glo op Gqeba en die bestuurder losgebrand.
Die bestuurder het daarin geslaag om na die Vredenburg Provinsiale Hospitaal te ry.
Gqeba, wat agt keer getref is, is later na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Intussen is planne beraam om die veiligheid van raadslede te verskerp, wat onder meer die gebruik van noodknoppies insluit.
Die handvol raadslede wat onlangs in die raadsaal was, was ontevrede met die stand van sake omdat hande wat binne die raad vir spreekbeurte gelig is, nie altyd deur die speaker, Olwene Daniels, wat die vergadering aanlyn bygewoon het, gesien kon word nie.
Lede van die ANC, GOOD en die EFF was in die raadsaal en het hul ongelukkigheid laat hoor.
By navraag het die munisipaliteit laat weet sodra planne afgehandel is om die raadsaal behoorlik te beveilig, sal ’n besluit geneem word oor die raadslede se terugkeer na fisieke raadsvergaderings.
“Die intelligensie-afdeling van die Suid-Afrikaanse polisiediens het ná die nodige ondersoeke aanbeveel dat geen raadsvergaderings vir die veiligheid van raadslede en personeel in lewende lywe bygewoon behoort te word nie.
“Tans word die raadsaal beveilig en sodra die projek afgehandel is, sal die speaker van die raad, in samewerking met die polisie, ’n besluit kan neem indien raadsvergaderings weer fisiek bygewoon kan word,” het Ethne Lawrence, ’n munisipale woordvoerder, verduidelik.
Sy het bevestig omdat slegs interne personeel en raadslede portefeulje-vergaderings bywoon, vind hierdie vergaderings wel in lewende lywe plaas.




