Met verlede week se taxigeweld is histerie weer gesaai deur middel van fopnuus op talle sosialemediaplatforms.
Terwyl gemeenskappe eerder moes saamstaan teen ’n gemeenskaplike vyand, het ’n ander magtige vyand die spanning opgejaag.
Kom ons stel dit blatant – dis net idiote wat sulke vals nuus versprei – veral op sosiale media. Dit word ook nie noodwendig uit onkunde gedoen nie – baie is moedswillig en sommige selfs kwaadwillig. Baie van die gepeupel wil ook net hul stem eerste op ’n platform laat hoor.
Fake news het sy kop lelik tydens die Covid-19-pandemie uitgesteek. Dit het almal ondermyn, wat baie opofferings moes maak in die inperkingstydperk om die verspreiding van die virus te keer.
Weslander loop ook dikwels deur onder kritiek oor “verkeerde inligting” wat gepubliseer word, en hoewel menslike foute in uitsonderlike gevalle inglip, is dit grootliks omdat mense eerder wil glo wat hulle in ongeverifieerde plasings in gemeenskapsgroepe op sosiale media lees as in die koerant.
Die koerant neem al die moontlike stappe om inligting so goed moontlik te verifieer om die gemeenskap van akkurate nuus te voorsien, tog verkies talle eerder die meer sensasionele plasings op sosiale media.



