Die doelwit van die meeste langtermyn-spaarders of afgetredenes wat van hul kapitaal leef, is die beskerming van hul koopkrag en kapitaal. Die geskiedenis het geleer dat ’n belegging in aandele oor die lang termyn die beste inflasiebestryder is.

Die probleem is egter dat hierdie beleggingsdoelwitte teenstrydig is weens die sikliese aard van ’n belegging in aandele.

Met finansiële markte wat tans op inflasie gefokus is, wonder baie beleggers wat hulle kan doen om hul kapitaal en koopkrag te beskerm. Ek kry dikwels hierdie twee vrae, en ook gereeld op dieselfde tydstip. Huidige marktoestande maak dit moeilik om jou kapitaal én koopkrag ten volle te beskerm. Die oplossing is om op jou beleggingsdoelwit te fokus: kapitaalbehoud en/of die beskerming van koopkrag? Struktureer dan jou portefeulje om jou beleggingsdoelwit te bereik in ooreenstemming met jou risikokapasiteit.

Wat word hiermee bedoel?

Indien jou enigste doelwit kapitaalbehoud is, moet jy bloot in kontant of soortgelyke alternatiewe beleggings belê. Daarenteen, as jou enigste doelwit die beskerming van langtermyn-koopkrag is, moet jy in ’n gediversifiseerde aandeleportefeulje belê.

Hoewel aandele histories getoon het dat dit ’n goeie inflasiebestrydende belegging oor die lang termyn is, is dit ongelukkig nie ’n goeie korttermyn-verskanser teen inflasie nie.

Wanneer inflasie aan die styg is, soos ons nou in die ekonomiese herstelfase sien, gebeur dit dikwels dat aandele daal. Aan die begin van so ’n siklus lyk aandele dus op die oog af na ’n slegte idee. Dit is egter met verloop van tyd dat waarde ontsluit word.

Ons adviseer baie afgetrede kliënte wat van hul aftreekapitaal leef. Hul doelwitte ná aftrede is ’n goeie voorbeeld van ’n balans tussen kapitaalbehoud en die beskerming van koopkrag. Vir die afgetredene is die primêre doelwit gewoonlik om ’n maandelikse inkomste te ontvang wat tred hou met inflasie. Terselfdertyd is die behoud van hul aftreekapitaal belangrik.

Jy het dus ’n mate van stabiliteit nodig vir die voorsiening van inkomste oor die kort /medium termyn (een tot vyf jaar). Hiervoor gebruik jy geldmark- en inkomstefondse, en laerisiko-beleggings. Om jou koopkrag oor die langer termyn (sewe jaar en meer) te beskerm, allokeer jy kapitaal na ’n aandelebelegging terwyl jy die blootstelling aan aandele in ooreenstemming met jou risikoprofiel hou.

Hoewel die langtermyn-syfers van aandele teenoor inflasie histories oortuigend is, is dit steeds belangrik om tussen kort- en langtermynverpligtinge te onderskei.. Indien jy raad nodig het oor enige van die kwessies wat ek in hierdie rubriek bespreek, kontak my gerus: Emile J. van Rensburg by 072 634 2559 of per e-pos by Emile.jvRensburg@psg.co.za. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult-groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article