Die laaste van die fietse is in Darling aan plaaslike buurtwagte geskenk.


Premier Alan Winde het verlede week sommer ’n warrelwindtoer van die Weskus op sy fiets gedoen.

Die fietstoer het gekom ná die opening van die Wes-Kaapse wetgewing Dinsdag (15 Februarie). Woensdag het Winde en ander provinsiale ministers die 239 km-roete by die Velddrif-stadsaal begin.

Tydens die drie dae lange toer is 100 fietse aan verskeie buurtwagte in Saldanhabaai, Swartland en Bergrivier geskenk. Die fietsryers het in Velddrif, Vredenburg, Langebaan, Moorreesburg, Riebeeck-Wes en Darling gestop.

“Die doel van die fietstoer is om veiligheid deur mobiliteit te bevorder en fokus op wat fietse kan doen om gemeenskappe te verbind en te help met dienslewering,” het Winde gesê.

In Vredenburg het vier verskillende buurtwagte die eerste 34 fietse ontvang.

Dag twee het die fietsryers in Langebaan gestop waar hulle ook ’n inligtingsessie met inwoners gehad het. Hier het Winde, plaaslike burgemeesters asook minister Tertius Simmers, LUR vir menslike nedersettings en minister Ivan Meyer, provinsiale minister van landbou, die inwoners toegespreek.

Later Donderdag was die ryers in Moorreesburg waar hulle fietse aan die Weskus-rampbestuursentrum oorhandig het.

Hierna was dit ’n trippe, trappe, trone na Riebeek-Wes en daarna Darling. Die laaste fietse is in die Swartland oorhandig, voor hulle na Kaapstad is.

Die skenking van fietse was gefasiliteer deur die provinsiale departement van vervoer en openbare werk se provinsiale fietsverspreidingsprogram.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article