Die vuur het heeldag hoog in die wêreld se grootste pizzaoond gebrand. Alanza Cleophas wys een van die pizzas wat vir ’n honger feesganger voorberei is.


Wat veronderstel was om ’n proeflopie op hul nuwe buite-verhoog te wees, het vinnig tot ’n volwaardige familiefees van bostaande gehalte gelei.

Fransie Rossouw, bestuurder van die Hopefield Plaasmol, sê sy en haar twee kinders, Gervin en Franselize Rossouw, het aanvanklik gemik om gasheer te wees vir 500 mense op die plaas by die afgelope naweek se bier- en musiekfees.

Maar in ’n japtrap is 2 000 kaartjies vir die geleentheid verkoop en het hulle besef hulle is aan die diep kant ingegooi. Rossouw sê hoewel kunstenaars gereeld by die Plaasmol optree, hulle nie ’n professionele maatskappy is wat spesialiseer in die reël van vermaak op só ’n groot skaal nie. Sy glo die Plaasmol-span het met beperkte ervaring hulle uitstekend van hul taak gekwyt.

Rossouw sê hulle is flou ná Saterdag 22 Oktober se vuurdoop, maar sy kan met trots aankondig dat die geleentheid hul verwagtinge oortref het en dat daar geen ernstige voorvalle aangemeld is nie.

“Ons het sover baie positiewe terugvoering oor die fees ontvang,” sê sy.

Selfs Francois van Coke het die Plaasmol-span ná sy optrede kom gelukwens met die professionele manier waarop die fees aangebied is.

“ ’n Mens het nie altyd waardering vir die werk wat in so iets ingaan nie, maar ons glo dis ons missie om goeie vermaak na die Weskus te bring. En ja, daar sal altyd ruimte vir verbetering wees, maar so leer ’n mens.”

Sy sê die stalletjiehouers by die fees was almal plaaslike mense en die geleentheid was ook vir Hopefield ’n ekonomiese hupstoot aangesien besoekers die winkels en restaurante besoek en in plaaslike gastehuise oornag het.

“Gee my net so ’n paar dae rus, dan sien ek weer kans om die volgende fees te reël,” het sy geskerts.

Foto’s: Stark Lui en Trish Goosen

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article