Die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit (BM) het albei in ’n amptelike verklaring Eskom se voorgestelde 32%-tariefverhoging verwerp.

André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit

“Eskom beplan om ’n derde van ons elektrisiteit te steel,” het die burgemeester van die SBM verlede week in sy verklaring gesê.

“As uitvoerende burgemeester verwerp ek Eskom se voorgestelde tariefverhoging aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wat vanaf 1 April 2023 in werking moet tree.”

Truter sê die voorstel is “onrealisties, bo inflasie en absurd!”

Volgens hom kom hierdie verhoging op die slegste moontlike tyd aangesien 2022 reeds die ergste jaar van beurtkrag tot nou is.

“En nou verwag Eskom van ons burgers om nóg meer van hul swaarverdiende geld vir elektrisiteit wat hulle nie kry nie, te betaal.

“Hierdie verhoging sal die dood van baie huishoudings beteken. Baie van ons inwoners sukkel om kos op die tafel te sit, leef van die hand na die mond en weet nie eens hoe hulle môre gaan oorleef nie.”

Die SBM het in ’n vorige verklaring gesê die munisipaliteit is besig om oplossings vir die huidige energie-uitdaging te verkry deur energie vir Saldanhabaai te bekom, en die SBM sal hierdie proses so vinnig as moontlik volg om te verseker dat ons inwoners alternatiewe energievoorsiening (elektrisiteit) sal hê.

“Dit is nou die tyd vir elkeen van ons om verantwoordelikheid vir ons toekoms te neem – verby is die dae waar ons bloot kon wegkyk en hoop vir die beste. Dit is van kritieke belang dat ons almal die verhoging van 32% sterk teenstaan – ek kan dit nie alleen doen nie. Help my om jou te help asseblief,” is Truter se pleidooi aan plaaslike inwoners.

“Ek wil al die inwoners van Saldanhabaai aanmoedig om deel te word van die oplossing deur deel te neem aan Nersa se openbaredeelname­proses met betrekking tot die konsultasiedokument oor Eskom se voorgestelde kleinhandeltarief-herstruktureringsplan deur voor Vrydag 7 Oktober skriftelik kommentaar by ERTSA@nersa.org.za in te dien.”

Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit

Die uitvoerende burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit (BM) het in ’n verklaring, wat op 23 September uitgereik is, gesê hy kan nie die “onrealistiese, onbekostigbare voorstelle van Eskom vir elektrisiteits­prysstygings” steun nie.

“Eskom se mees onlangse aansoek by Nersa, waarin goedkeuring gevra word vir ’n kommerwekkende 32%-prysverhoging vir elektrisiteit, kan weer beteken dat die verbruikerspubliek meer geld vir hierdie noodsaaklike diens sal moet opdok,” het Van Rooy gesê.

“Ek ondersteun die Stellenbosch-sowel as die Bitou-munisipaliteit se voorstelle – dat hulle Eskom se jongste aansoek onomwonde en in die openbaar verwerp – ten volle. Ek verwerp ook hierdie aansoek ten sterkste en vra dat dit dringend geskrap word.”

Van Rooy sê die stygende prys van voedsel, brandstof en elektrisiteit – alles noodsaaklik vir die handhawing van ’n menswaardige lewe – knou inwoners se vermoë om met hul inkomste uit te kom, en dit bevorder net werkloosheid, armoede en misdaad.

“Ons inwoners is so finansieel ingeperk dat hulle letterlik geen ruimte meer het om hul huishoudelike begroting te sny nie. Hierdie voorgestelde verhoging hou ernstige gevolge vir inwoners, ons gemeenskappe en die groter samelewing as geheel in.

“Dit word van ons verwag om verhogings hoër as die inflasiekoers te aanvaar vir elektrisiteit, ’n diens wat swak bestuur word en selfs veroorsaak dat ons inwoners sonder warm water, sonder enige elektroniese toestelle (selfone), sonder sein (in sommige gevalle), sonder lig, vir ’n hele paar uur per dag moet sit.

“Dit is onaanvaarbaar, ongevraagd en onregverdig!”

Van Rooy doen ’n sterk beroep op Eskom om sy voorstel terug te trek en dit te wysig om te verseker dat dit in pas is met die verbruikersprysindeks.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article