Melvin Edwards, die waarnemende skoolhoof van die Laerskool Saldanha.


Om die pos as waarnemende skoolhoof by die Laerskool Saldanha vol te staan, is vir Melvin Edwards ’n absolute eer.

Edwards het dié nuwe rol in Januarie vanjaar ná die aftrede van JC Carstens, wat 41 jaar in die onderwys gedien het, oorgeneem. Edwards is sedert 2000 by die Laerskool Saldanha. Hy het sy Hoër Onderwysdiploma in praktiese spesialisering met wiskunde en wetenskap as hoofvakke by Hewat Onderwyskollege verwerf. Verder het hy ’n sertifikaat in gevorderde onderwysbestuur wat hy aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Edwards vertel dat hy sy loopbaan as ’n LSEN-onderwyser by Wingfield Primêr begin het. “My eerste skool aan die Weskus was Noordhoek Primêr, onder Avril Daniels. Van daar is ek na Steenberg’s Cove Primêr, waar hierdie Cape Flats-klong vir die eerste keer in sy lewe ’n skool met vyf personeellede ervaar het. Hier was baie van die leerders weg ná eerste pouse as die vis geloop het. Dan gaan vlek die mense, groot en klein, vis vir ekstra of enigste inkomste.”

Met sy aanstelling by die Laerskool Saldanha, sê Edwards, het die skool reeds ’n toon gestel vir transformasie en integrasie. Destyds was die opvoeders en die hoof juis mense met visie en mense wat die nuwe norm met ope arms ontvang het. Hy is in 2005 as departementshoof aangestel en in 2009 as adjunkhoof.

“Ek moes in my laasgenoemde rol maar baie knoue en houe vat as gevolg van my posisie as dissipline-hoof, maar ek het dit gevat omdat ek die skool tot die beste van my vermoë vir almal wou veilig hou en wou seker maak die groot meerderheid van ons leerders geniet die skoolervaring.”

In sy rol as waarnemende skoolhoof sien Edwards daarna uit om die goeie strukture wat reeds bestaan, verder te versterk en met die hulp van die bestuurspan ’n paar nuwe strukture in te stel, wat die skool na die volgende vlak uitnemendheid kan help neem.

“My visie is om ’n skool in te rig waar almal tuis en welkom voel, maar ook ’n skool waarna die gemeenskap kan verwys as ‘ons skool’.”

Sy boodskap aan leerders, personeel en ouers is dat alle rolspelers in die skool uit een mond moet praat en almal moet op dieselfde bladsy wees. “Ons moet ’n gemeenskaplike doel en visie vir die skool hê – ons moenie tevrede wees met net ‘gemiddeld’ nie; ons moet streef na uitnemendheid.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article