Gevalle van Covid-19, hospitalisasie weens die virus en positiewe toetse is alles aan die afneem in die provinsie.
Dit is volgens premier Alan Winde wat Donderdag sy jongste verklaring rakende die pandemie bekendgestel het.
Luidens die verklaring, wat in plaas van die weeklikse Covid-mediakonferensie uitgereik is, sal die provinsie die vierde golf van die pandemie agter laat wanneer daaglikse gevalle na 600 per dag verlaag.
Winde het bevestig daaglikse sterfgevalle staan op 31, gegrond op ’n weekgrondslag.
Teen Dinsdag (25 Januarie) was daar 325 positiewe gevalle in die Saldanhabaai-munisipale gebied, 246 in die Swartland, 187 in Matzikama, 100 in die Bergrivier en in die Cederberg munisipale gebied was 93 inwoners Covid-19-positief.
Ernstige gevalle van Covid-19 tydens die (huidige) vierde golf is ook volgens Winde aansienlik minder.
Plaaslik is dieselfde waarnemings opgelet.
Volgens Leensie Lötter, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Weskus, is daar onlangs ’n styging in Covid-gevalle waargeneem hoewel minder pasiënte gehospitaliseer moes word. “Wat Covid-gevalle betref, was ons hospitale in Desember 2020 baie besig met Covid-pasiënte, met heelwat ernstige gevalle en talle sterftes. In Desember 2021 het die departement ’n skerp styging in Covid-gevalle gesien, maar merkbaar minder hospitalisering as gevolg van Covid,” verduidelik Lötter.
Lötter sê die kontras tussen die aantal gesondheidswerkers wat ernstig siek was weens Covid in Desember 2020 is ook duidelik, met minder gesondheidswerkers wat ernstig siek was of gesterf het weens Covid in Desember 2021. “Die departement skryf dit toe aan die aantal gesondheidswerkers wat teen Covid-19 ingeënt is.”
Volgens die kliniese bestuurder van Vredenburg-provinsiale hospitaal was dit ook duidelik opmerklik dat die oorgrote meerderheid van pasiënte wat in Desember 2021 vir Covid-19 opgeneem is, nie ingeënt nie was nie.
Volgens dr. Jenny van der Merwe van Life Weskus was die Weskus “terug na normaal oor ’n Desember” in 2021, met die hospitaal wat nie so baie Covid-hospitalisasies gehad het soos Desember 2020 nie.
Volgens Annette Olls, Life Weskus-hospitaalbestuurder, was daar ’n aansienlike verskil tussen Desember en vandeesmaand.
“Gedurende die periode Desember 2021 tot Januarie 2022 het ons ’n groot verskil gesien – baie mense het positief getoets, maar net enkeles is opgeneem.
“Ongeveer 15% van ons personeel het tydens hierdie tydperk ook positief getoets maar slegs een personeellid moes gehospitaliseer word. Daar is geen twyfel dat die inenting ’n groot rol speel met die huidige vlaag nie,” het Olls verduidelik.

