(Vervolg van bl.1)
Kraaie gaap in Hopefield
Lizelle Strydom, kurator van Hopefield se museum, was Saterdag een van talle Weskussers wat foto’s van temperature bo 40 °C op sosiale media geplaas het. Sy het ’n foto van ’n termometer, wat ’n moordende 54 °C by Koperfontein, 6 km buite die dorp gemeet het, op Facebook gedeel.
“Dit was natuurlik nie die ware, aanvoelbare temperatuur nie, maar die temperatuur wat in die direkte son en op die grond gemeet is. Ek het dit as waarskuwing geplaas sodat mense voorsorg kan tref vir hul diere wat weens die hoë temperature in gevaar kon wees,” het sy gesê.
Strydom sê Hopefielders het in hul lugverkoelde huise gaan wegkruip of die dag langs die waaier, met al die gordyne toegetrek, deurgebring.
Heelwat kinders het in die besoedelde Soutrivier gaan afkoel waar swem glo al jare lank verbied word.
Volgens Strydom is die water hoogs toksies en nie geskik vir mense om in te swem nie.
Die Hopefield-museum het swart-en-wit-foto’s van Hopefielders wat destyds langs die rivier uitspan. In die ou dae het die rivier groot plesier verskaf aan inwoners wat gereeld daar piekniek gehou en geswem het.
“ ’n Voorlegging is ’n paar jaar gelede aan ons munisipaliteit gegee wat ’n rehabilitasieprogram vir die rivier ingesluit het. Niks het tot dusver daarvan gekom nie. ’n Skoon rivier sal ’n groot aanwins vir die dorp vir toerisme wees, sowel as vir inwoners wat op sulke warm dae wil gaan swem,” het Strydom gesê.
Waterbuffel koel in swembad af
Amalia van Niekerk, mede-eienaar van die Thali Thali-wildreservaat naby Langebaan, sê die diere in die reservaat het Saterdag net so warm soos die mense gekry.
’n Waterbuffel het op die oog af só warm gekry dat hy in die swembad by die Van Niekerk-gesin se huis in die reservaat kom afkoel het.
Van Niekerk het aan Weslander gesê die diere koel gewoonlik in die dam in die reservaat af, maar af en toe kom maak hulle hulself gemaklik tuis in die swembad by haar huis, of in die swembad by Thali Thali se gewilde restaurant.
Saterdag was dit egter uitsonderlik warm en volgens Van Niekerk is waterbuffels nie inheems nie, daarom is hulle nie gewoond aan die uiterste hitte van die afgelope naweek nie.
Troeteldiere oorleef hittegolf
Volgens Louise Louw Whyte, ’n vrywilliger van Langebaan Animal Care, het diereliefhebbers van Langebaan nie geskroom om waaiers te verskaf en Saterdag honde te kom afspons toe sy verlede week na die gemeenskap vir hulp uitgereik het nie. Mense is ook gevra om opblaas-swembaddens vir die diere te bring waarin hulle gedurende Saterdag se hittegolf kon afkoel.
Ou handdoeke is geskenk en natgemaak en op honde geplaas.
Whyte het Maandag almal wat hulp verleen het via Facebook bedank en aangekondig dat al Langebaan Animal Care se diere die hittegolf oorleef het.
Buitengewoon hoë seedeinings
Die geweldige hitte, wat met ’n buitengewoon onstuimige see gepaard gegaan het, het die afgelope naweek die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) by Wes-Kaapse strande laat bontstaan.
Dit was egter te verwagte aangesien die NSRI die publiek verlede week reeds teen verwagte hoë seedeinings en rowwe, onstuimige seetoestande gewaarsku het.
Die waarskuwing is uitgereik weens die hoë temperature wat voorspel is, tesame met die rowwe seetoestande as gevolg van ’n onlangse storm in die Suidelike oseaan en die onlangse volmaan-Springgety.
Nog voordat die hittegolf Saterdag toegeslaan het, het inwoners van die Weskus foto’s van besonder hoë seedeinings by St. Helenabaai, Laaiplek en Dwarskersbos op plaaslike Facebook-bladsye geplaas.
Saterdag het rowwe waters by Langebaan ook daartoe gelei dat drie swemmers in die moeilikheid beland het.
Hitteverwante noodgevalle
Maryke Pearson, bemarkings- en kommunikasie-koördineerder by die Life Weskus- private hospitaal in Vredenburg, het Woensdag aan Weslander gesê ten spyte van die erge hitte is geen hittevervante noodgevalle of sonsteekgevalle die afgelope naweek by die hospitaal aangemeld nie.
Nog warm dae kom; tref voorsorg
Februarie en Maart is die Weskus se warmste twee maande en nog erge warm dae kan verwag woord voordat herfs aanbreek.
Hier is ’n paar wenke om veilig en koel in die hitte te bly: . Drink genoeg water,. maak seker babas, bejaardes en kinders bly goed gehidreer,. onthou om jou troeteldiere op ’n koel plek met skoon water te hou,. probeer om uit direkte sonlig te bly,. dra gepaste klere en maak seker dat jy sonskerm gebruik,. beperk deelname aan buitemuurse aktiwiteite,. as jy tyd in ’n swembad gaan deurbring, verseker jou veiligheid en dié van kinders rondom jou, en laastens,. moet nooit kinders en troeteldiere in ’n warm voertuig los nie, selfs al word ’n venster oopgelaat.





