Hopefield het Saterdag op sy tuisveld weereens bewys ’n wedstryd word eers ná 80 minute gewen.
Hopefield het die wedstryd teen Langebaan 32-25 gewen nadat die besoekers met rustyd 16-15 voor was.
Hopefield het die oorwinning met twee vinnige verdoelde drieë teen die einde verseker. Langebaan het die tweede helfte goed begin en die tuisspan se dissipline het die besoekers se voorsprong met twee strafskoppe vergroot.
Hopefield het egter koelkop gebly en die besoekers moes ook die meeste van die verdediging doen.
Hopefield, wat met gebiedsvoordeel die oorhand gekry het, het daarna die uitklophou geplant en ’n bonuspunt-oorwinning behaal.
Met nog vier wedstryde oor is die deur steeds wawyd oop vir enige van die eerste ses spanne wat nog die uitspele kan haal.
Saldanha, die verdedigende Boland-kampioen, en Mamre het hul greep op uitspele met oortuigende oorwinnings versterk. Saldanha het op sy tuisveld Paternoster behoorlik gekarnuffel en die wedstryd 46-17 gewen.
Mamre het egter ook sy greep op die streektitel versterk en die omgekrapte Velddrif met 47-12 afgeransel. Mamre het met die oorwinning ook bewys geen span daag net hier op om te wen nie. Mamre, wat steeds ’n wedstryd minder as Saldanha gespeel het, sal hoop sy buurspan Young Hearts sal hom die naweek ’n guns bewys wanneer die kampioen die grafkelder besoek.
Young Hearts sal nie net die groen truie ’n guns doen nie, maar dit sal ook Ruben Abels se troepe se kanse om nog die uitspeelronde te haal, lewendig hou.
Mamre sal die naweek moet voortbou op sy vertoning wanneer hy in Paternoster gaan kuier.
St. Helenabaai, wat reeds Abels se troepe gekwes het, sal ook die naweek teen Piketberg wil voortbou om sy kanse lewendig te hou. Vredenburg is nou amptelik die slaansak van die Weskus. Vredenburg, wat tans een van sy swakste seisoene beleef, moes die knie teen Piketberg buig.
Volledige uitslae:
. Weskus:Saldanha 46-17 Paternoster, Piketberg 19-18 Vredenburg, St. Helena 15-9 Young Hearts, Mamre 47-12 Velddrif, Langebaan 25-32 Hopefield . Swartland: Never Despairs 31-14 Riebeeck United, Goodhopes 33-5 Villagers Wittewater, Porterville 22-20 Moorreesburg, Darling 32-27 Abbotsdale en Saron 17-39 Wesbank.
Die naweek se program is: Young Hearts t. Saldanha, Piketberg t. St. Helena, Paternoster t. Mamre, Velddrif t. Hopefield en Langebaan t. Koringberg. Vredenburg loslootjie.. Swartland: Wesbank t. Abbotsdale, Riebeeck United t. Darling, Goodhopes t. Never Despairs, Moorreesburg t. Villagers Wittewater en Saron t. Porterville.





