Die span van Badisa Weskus het ’n goeie jaar agter die rug. Foto: Yaël Malgas


Neem ’n kind aan, en indien jy nie dít kan doen nie, word ’n pleegouer. Indien jy nie dít kan doen nie, mentor en as jy nie dít kan doen nie, word ’n vrywilliger. As dit nie moontlik is nie gee ’n skenking, en indien dít ook nie moontlik is nie, voed ander op.

Dit is die voorstel van Badisa Weskus wat Vrydag (9 September) sy jaarvergadering gehou het.

By die geleentheid, gehou by die Akkerdyk-kerk in Vredenburg, is rolspelers, pleegouers, vrywilligers, personeellede en ondersteuners van die organisasie vir hul ondersteuning bedank.

“Ons word gereeld gevra hoe kry ons so baie reg met so min hulpbronne en die antwoord is eenvoudig: dit is danksy ons donateurs en vrywilligers se ondersteuning,” het Annora Mostert van die Badisa-bestuur verduidelik.

Badisa bedien die Saldanhabaai- munisipale gebied en verskaf noodsaaklike hulp aan kinders en gesinne.

Die afgelope jaar het die span onder meer gehelp om 26 inwoners as pleegouers op te lei.

Altesaam 25 kinders is gehelp om in pleegsorg geplaas te word en 81 kinders was deel van hul lewensvaardigheidsprogram.

Saam hiermee het die span ook 979 leerders deur hul skoolprogramme bereik. Badisa bied ’n poppekas aan en het kinderbelangstellingsgroepies waar hulle direk met kinders in die gemeenskap werk.

Susan de Lange, verantwoordelik vir personeelopleiding en welstand by Badisa, het verduidelik die kind is die belangrikste persoon in hul werk.

Sy het die span en hul ondersteuners moed ingepraat en gesê hoewel maatskaplike werkers nie altyd die gewildste mense is nie, hulle hul werk as ’n hartsaak doen.

Tesourier Rassie Ganz het die afgelope jaar se finansies uiteengesit en onder meer verduidelik ’n groot deel van die afgelope jaar se begroting is gebruik om ’n webblad vir die organisasie op te stel.

Adele Grosse was die gasspreker by die geleentheid. Grosse woon deesdae in St. Helenabaai en het vertel van haar motiveringswerk reg oor die wêreld. Haar boodskap was eenvoudig – “verandering begin by my”.

Vir meer inligting oor Badisa se programme en om betrokke te raak by die organisasie besoek www.badisawestcoast.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article