Elf mans wat na bewering onder die invloed van drank bestuur het, is die afgelope betaaldagnaweek in die Weskus aangekeer.
Twee dronk bestuurders het selfs in afsonderlike voorvalle agter in geparkeerde motors op sypaadjies vasgejaag, het kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, gesê.
’n Agtienjarige bestuurder het Sondag 2 Februarie omstreeks 20:25 teen ’n geparkeerde voertuig op die sypaadjie in Bergsigstraat, Louwville, gebots. Die bestuurder het probeer om hom teen inhegtenisneming te verset en glo ’n polisievrou met die vuis teen die kop geslaan. Beamptes van die Vredenburg-polisie het die verdagte in hegtenis geneem vir dronkbestuur, roekelose en nalatige bestuur, aanranding en verset teen inhegtenisneming.
Vrydagaand 31 Januarie is ’n 57-jarige man in Vredenburg in hegtenis geneem nadat hy ’n ongeluk op die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) veroorsaak het.
In Moorreesburg is ’n 43-jarige man ook Vrydag 31 Januarie omstreeks 23:30 aangekeer omdat hy aan die verkeerde kant van die pad gery het. By ondervraging kon hy nie sy drankasem wegsteek nie en hy is vir dronkbestuur in hegtenis geneem.
Saterdag 1 Februarie het ’n 36-jarige man ook teen ’n geparkeerde voertuig in Langstraat, Moorreesburg, vasgery. Hy is in hegtenis geneem.
Die 23-jarige bestuurder van ’n taxi in Kraaifontein is Sondagaand 2 Februarie by die N7-weegbrug by Moorreesburg in hegtenis geneem nadat die taxi voorgekeer is en bevind is die bestuurder het onder die invloed van drank bestuur.
’n 56-jarige man van Vredendal is op Saterdag 1 Februarie om 01:30 op die pad tussen Vredendal en Lutzville voorgekeer. Hy is gevra om uit sy voertuig te klim en kon dit skaars doen, waarna hy in hegtenis geneem is.
Drie mans is Sondag 2 Februarie vroegoggend in Oostewalstraat in Langebaan weens dronkbestuur aangekeer.
Saterdag 1 Februarie is ’n 27-jarige en ’n 49-jarige man in twee afsonderlike voorvalle op die Porterville-pad (R44) vir dronkbestuur aangekeer en Saterdagaand omstreeks 23:00 is ’n 31-jarige man van Kaapstad in Porterville voorgekeer en ook weens dronkbestuur in hegtenis geneem.
Sondagoggend 2 Februarie is ’n 31-jarige man van Mfuleni se voertuig, ’n silwer Volkswagen Polo, in Voortrekkerstraat, Porterville, opgemerk nadat klagtes van roekelose bestuur ontvang is. Die bestuurder is gevra of hy alkohol gebruik het omdat sy asem sterk daarna geruik het en hy het dit erken. Dié man is ook ná inhegtenisneming vir bloedtoetse geneem.
’n 55-jarige man van Vanrhynsdorp het Sondagoggend om 08:10 ’n verkeersopeenhoping in Sambreeltjiestraat veroorsaak.
By ondersoek is gevind dat die man onder die invloed bestuur het.


