“Ek is bang vir my eie seun.”

Met die mikrofoon in haar hand kyk sy dapper oor die rye mense in die Saldanha-veeldoelige saal wat aandagtig na haar luister.

Die waarheid vloei sonder ophou uit haar uit.

“Ek moes my messe wegsteek. Ek is bang hy maak ons seer as hy gedrink het.”

Al die oë in die saal is op haar gerig. Dié wat verstaan, knik die kop simpatiek, en ander skud die kop in verbasing en ongeloof.

Dit was vir hierdie ma, wie se identiteit beskerm word, duidelik ’n groot verligting om teenoor ander mense oop te maak oor die angs en vrees wat sy elke dag by die huis ervaar.

Hierdie vrou het Maandag (28 November) by die vraag-en-antwoord-sessie van die Wes-Kaapse polisie se provinsiale openingsgeleentheid van die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, wat in Saldanha aangebied is, die desperaatheid van haar storie met almal in die saal gedeel.

Sy het gesê haar seun se pa was destyds baie gewelddadig en het haar vir baie jare mishandel.

Hy is egter lankal uit haar en haar kinders se lewe, maar ongelukkig het die mishandeling ’n blywende letsel op haar seun gelaat.

Hierdie seun – maar nie sy sibbe nie – het baie van sy pa se slegte karaktereienskappe geërf.

Sy bly bid vir hom dat hy sal verander en het lank gebid dat hy permanent by sy werk aangestel sal word. Sy is lief vir hom, maar sommige dae voel dit vir haar asof sy niks meer vir hom voel nie, “want hy het niks meer vir my oor nie”.

Sy het aan die polisie-hoës by die geleentheid gesê sy wil hom nie meer in haar huis hê nie.

“Hy het so tekere gegaan met sy sussie dat sy haar ongebore baba verloor het,” het die ma hartseer verklaar.

Die provinsiale polisiekommissaris het ná afloop van haar hartverskeurende noodkreet dadelik opdrag aan die polisiekantoor van haar dorp in die Saldanhabaai-munisipale gebied gegee om aandag aan haar situasie te gee.

Sy is een van vele ma’s wat deur hul volwasse kinders mishandel en aangerand word en waaroor Weslander die afgelope twee jaar berig het.

Kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag by die geleentheid aan Weslander gesê dwelms en drank is dikwels by gesinsgeweld en voorvalle waar kinders hul ouers aanrand, betrokke.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article