Die eiendomspesialis Ari Malan se kennis en merkwaardige manier van werk het baie agente insig gegee oor hoe om ontwikkelings suksesvol te bemark en te verstaan.
Só vertel een van sy voormalige eiendomsagente Betsi-Ann van der Vyver.
Malan, wat op 26 Februarie 1960 gebore is, is Maandag 6 Junie weens ’n harttoestand dood. Malan het in Durbanville gewoon, maar elke week Langebaan toe gekom, waar hy die laaste nege jaar altesaam 10 ontwikkelings in Langebaan suksesvol van die grond af bemark het.
Malan het omtrent 40 jaar in die eiendomsmark gewerk waar hy gespesialiseer het in die verkoop van erwe en nuwe ontwikkelings. Hy was die vierde oudste van ses kinders.
Volgens sy familie het Malan ’n groot rol in die lewe van sy ouers en broers en susters vervul. Sy jongste suster, Wilna Malan, werk al 22 jaar aan sy sy en gaan sy onderneming ter nagedagtenis aan hom bestuur. Sy persoonlike assistent en sekretaresse, Caryn-Leigh Amira, sê Malan was haar mentor en baas, maar meestal haar vriend. “Die lewe sal nie dieselfde wees nie. Ek mis hom meer as wat woorde kan beskryf.” Sy bedank Malan vir sy vriendskap, ondersteuning en liefde.
Van der Vyver voeg by Malan was haar leermeester en dit is grootliks te danke aan hom dat sy die agent is wat sy vandag is. “Ek gaan ons werksverhouding, oproepe en vergaderings vreeslik mis. Die Weskus het waarlik ’n ikoon in eiendom verloor,” sê Van der Vyver.
“Ari het ’n unieke manier gehad om met mense te werk. Hy het op ’n natuurlike, sagte manier gepraat en almal spesiaal laat voel. Hy het geen onderskeid tussen mense getref nie en altyd almal deel van ’n gesprek of projek gemaak. Sy geduld, kalm persoonlikheid en sin vir humor sal gemis word.”
Van der Vyver sê hy was baie lief vir die lewe en sy liefde was nie net vir mense nie, maar ook vir sport, visvang, tennis, rugby, perderesies en musiek. “Sy grootste liefde was die eiendomsmark en sy hondjie, Lady Penelope.” Malan laat sy lewensmaat, Ronel Brand en seuns Jannie en Rudi Brand, asook sy susters Alta Malan, Roné Malan en Wilna Malan agter.
’n Viering van sy lewe word Woensdag 22 Junie om 14:00 by Kapstadt Brauhaus in Langebaan gehou. RSVP Betsi-Ann by 078 309 6217.





