Die nuwe bestuur is voor van links: Charl van Rensburg, Lorette Diedericks (ondervoorsitter), die burgemeester, André Truter, en Chiann Nienaber (tesourier)

’n Ierse maatskappy met ’n belegging van R47 miljard in waterstofenergie, wat vir die tweede kwart van 2024 in die vooruitsig gestel word, is een van vele ontwikkelings waaroor op die bekendstelling van die St Helenabaai-sakekamer gepraat is.

Met die snelgroeiende ontwikkeling van die eens uitgestrekte “kusdorpie” van St Helenabaai, het die behoefte by sakelui in dié dorp ontstaan om ’n sakekamer van hul eie te stig.

Elmondo Paulse, voorsitter, het die bekendstellingsvergadering verlede Donderdag (30 November) by die St Helena-hotel amptelik geopen. Hy het die noodsaaklikheid van georganiseerde sakelui beklemtoon en die sowat sewentig sakelui wat dié geskiedkundige gebeurtenis bygewoon het, uitgenooi om by dié nuwe sakekamer aan te sluit.

Die gasspreker, André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het ’n deeglike oorsig gegee oor toekomstige ekonomiese inspuitings vir die gebied waarby hy betrokke is.

Dit sluit beplande sonenergie-aanlegte, ’n 100 MW-gaskragstasie, ’n moontlike wynplaas en boetiekkelder, ’n aanlyn universiteit en waterbehandelingsaanlegte in. In verband met laasgenoemde het hy verwys na SBM se ontsoutingspermit vir Danger Point, waarvan die omgewingsimpakstudie onlangs hernu is.

Hy waarsku inwoners dat die groei en ontwikkeling in die gebied nie gestuit gaan word nie. “As jy nie van groei hou nie, bly jy in die verkeerde gebied.”

Hy meen inwoners met die beskouing van nie-in-my-agterplaas-nie sal moet oorskakel na ’n ja-in-my-agterplaas- houding. “Jy kan groei bestuur, maar jy kan dit nie keer nie.”

Hy het ook die Wes-Kaapse regering geprys vir die R164,8 miljoen wat hy bewillig het om St Helenabaai se hoofpad reg te maak. Hy het gesê nuwe sypaadjies sal gebou word wanneer die Wes-Kaapse regering dié pad mét ’n instandhoudingsbegroting daarby aan die SBM oordra.

Truter het aangedui die munisipale veselkabelprojek, wat al in die voorma­lige burgemeester Marius Koen se tyd van stapel gestuur is, is een van die enigstes van sy soort in ’n munisipaliteit ter wêreld. Hy het benadruk dit het die belastingbetaler nie ’n sent gekos nie.

Johnny da Silva, die voorsitter van die Velddrif-sakekamer, het die St Helena­baai-sakekamer se kenteken en webwerf bekendgestel en verduidelik hoe dit werk. Besoek dit gerus by shbbc.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article