Dis nie net jou normale burger nie, maar ’n burger wat ’n verskil maak.
Stefan Grobler, eienaar van Deli on Main in Dwarskersbos, het met ’n blink idee vorendag gekom om Velddrif Animal Care te help.
Grobler en sy vrou, Loïs, het albei ’n groot liefde vir diere en verstaan die hart van diereliefhebbers.
Grobler het besluit om ’n burger na sy oorlede geliefde boerboel-hond, Linka, te vernoem, en só het die Linka-burger-promosie ontstaan.
Grobler vertel dat hy verlede jaar na Velddrif Animal Care uitgereik en gevra het hoe hulle dié diere-organisasie kan help. Hy verduidelik dat sy kliënte ’n spesiale burger – met spek, avokado en tjips – en genoem die Linka-burger, aangebied word teen dieselfde prys as die gewone beesvleis-burger.
“Vir elke burger wat ons verkoop, skenk Deli on Main ’n hond se kos vir ’n dag.”
Grobler besef dat Velddrif Animal Care baie doen vir die gemeenskap se diere en dat die organisasie baie kostes het wat hulle moet dek, wat onder meer hondekos, veeartsbesoeke en soveel meer behels. Sodoende wil hy help verligting bring.
Volgens Grobler het die inisiatief verlede jaar vlamgevat en mense van wyd en syd het hul ondersteuning getoon. Vir Grobler gaan dit bloot om hulp te verleen aan die organisasie en die daaglikse struikelblokke wat hulle moet trotseer.
Elmaré Erasmus van Velddrif Animal Care sê die inisiatief is ’n riem onder die hart en hulle is baie dankbaar teenoor Deli on Main. “Ons kon verlede jaar omtrent 80 kg se hondekos koop en ook ’n groot sterilisasie-inisiatief in Noordhoek hou. Dit was sowaar ’n enorme hulp,” sê sy.
Grobler sê die doel van die promosie is ook om bewusmaking te bring van die harde werk wat Velddrif Animal Care doen.
Die Linka-burger-promosie was die afgelope maand geldig en sal nog vir Augustusmaand geld. Om jou ondersteuning te toon, maak ’n draai of kontak Deli on Main by 081 541 5574.



