Saterdagaand 26 Februarie het ’n noodlottige botsing by Langebaanweg-oorgang op die R45 plaasgevind.
Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, het die botsing omstreeks 20:15 gebeur.
Sy sê ’n wit Chevrolet met insittendes wat van Worcester kom, het vanaf Langebaanweg se kant die kruispad in die rigting van Langebaan oorgesteek.
’n Swart dubbelkajuit Ford met insittendes wat van Khayelitsha kom het uit Saldanha se rigting gekom en was onderweg in die rigting van Hopefield.
Die twee voertuie het by die oorgang gebots.
Volgens ander motoriste was die brandweer besig om die wrakke van die motors wat aan die brand geslaan het, te blus en was talle ambulanse op die toneel, toe dié ooggetuies kort ná die botsing daar verby gery het.
Een persoon (59) van Worcester wat in die Chevrolet gery het, het beswyk en drie kinders ook van Worcester, onderskeidelik 7, 9 en 14 jaar oud is ernstig in die botsing beseer.



