Tevrede met ’n lekker snoekvangs vir die dag, het die bemanning van die My Diamond-visserskuit Maandagmiddag 20 Mei besluit om na die St. Helenabaaihawe terug te keer.

Die mis was dig en onderweg na die hawe is hulle meteens in erg onstuimige water gedompel.

Die Saldanhabaaiers Eaton van Kolver (51), Lukas van Wyk (70) en Alfonso Vraagom (38) was saam met Jan Buitendag (53), ’n geliefde inwoner van St. Helenabaai, uit op die skuit.

Eaton vertel dat die skuit omgedop het toe daar skielik ’n reusedeining was. Almal het in die water beland.

Hy het net geveg om kop bo water te hou en kon nie een van die bemanningslede in die watermassa sien nie.

In die digte mis kon hy ook nie land sien nie. “Ek het net gevra: ‘Here help my asseblief’.”

Eaton het uitgeswem na waar die branders breek, en uiteindelik op die strand voor Shelley Point in St. Helenabaai uitgekom.

Minute later het Jan en Lukas uitgespoel. Hoewel Lukas ongedeerd was, was Jan dood. Hy het vermoedelik verdrink.

Alfonso word steeds vermis.

Volgens Jan se vrou, Desiré Buitendag, is dit die tweede seisoen dat hy kommersieel visvang. “Ons het verlede jaar die boot laat opbou en hy het kommersieel daarmee begin visvang.”

Die egpaar, wat 27 jaar getroud was, het tussen 2015 en 2022 die bekende Jan’s Vetkoek Den in St Helenabaai gehad.

Hulle het juis die vetkoekden toegemaak om ’n rustiger lewe te lei.

Jan was bitter lief vir kosmaak. Jan was alombekend vir sy vetkoeke en lekker mosselpot.

“Mense het graag mosselpot by hom bestel.”

Volgens Desiré was mense maklik aangetrek tot Jan én sy kosmaak-vernuf.

Hulle het een dogter, Jeandre Buitendag (24).

Die bemanning het onlangs eers in Lambertsbaai en toe St. Helenabaai saam met Jan begin werk, toe die snoek begin loop het.

Hulle is ou hande met visvang. Eaton vang al sy lewe lank vis, en vir Alfonso is die see sy lewe.

Volgens sy vrou, Ronette Vraagom, is hulle al 13 jaar getroud.

Alfonso is Maandagoggend vroeg uit die huis uit.

“Ek het nooit besef iemand kan soos mis voor die son verdwyn nie. Is hy nog in die water, roep hy uit na ons?”

Sy worstel met ander vrae soos waarom alles wat in die skuit was dan uitgekom het, maar nie hy nie.

“Het hy dalk in die verkeerde rigting geswem?” Tog bly sy hoopvol en klou vas aan die idee dat hy dalk nog aangestap gaan kom, dat hy lewe.

Sy kinders, Alonzo (13), Rowaylon (9) en die tweeling, Aleeya (2) en Alicia (2), vra elke aand waar “Pappie” is en wanneer hy huis toe kom.

Alfonso is ’n baie sterk swemmer wat sou weet wat om te doen in ’n situasie waar ’n skuit omslaan.

“Hy ken die see. Hy het vir die see gelewe. Naweke as hy by die huis was, het hy gaan hengel.”

West Coast Medical Rescue was Maandagmiddag saam met die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op die strand waar die boot uitgespoel het.

Volgens Nic Stevens, NSRI Mykonos-stasiebevelvoerder, het die skuit omstreeks 16:00 sowat een seemyl van die kus by Shelley Point omgeslaan.

Veiligheidswagte van die Shelley Point-landgoed het die NSRI laat weet.

Met hul aankoms het noodpersoneel bevind dat Eaton en Lukas aan hipotermie ly en geringe nie-dodelike verdrinkingsimptome toon.

Kardiopulmonêre Resussitasie (KPR) is onsuksesvol op Jan uitgevoer.

Die NSRI en polisieduikers het nog lank ná donker na Alfonso gesoek, maar ten spyte van ’n uitgebreide soektog langs die see en kus is daar geen teken van hom nie.

Geen begrafnisreëlings vir Jan kon nog getref word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article