’n Dag vol jukskei is onlangs in Langebaan gehou en spelers van Eden, die Wynlande en WP is verwelkom.
Saterdag (2 Julie) se koue en reën het egter nie die spelers afgeskrik nie.
Charmaine Laubscher, Saldanhabaai se onderburgemeester, het die dag geopen en ook die eerste skei gegooi.
Kansa is ook verteenwoordig en al die spelers het Kansa-strikkies gekoop ter ondersteuning van die organisasie.
Die reën het wel die spel onderbreek, maar die gehalte van die jukskei was goed met verskeie nasionale en provinsiale spelers wat nou aan die Namibiese Ope-jukskeitoernooi sal deelneem.
Ses spanne in die A-afdeling het mekaar deeglik getoets en Eden is ná vyf wedstryde as die wenners gekroon, gevolg deur ’n WP-uitnodigingspan in die tweede plek en Langebaan se A1- en gemengde span van WP en Weskus-spelers gesamentlik in die derde plek.
Vyf spanne het in die B-afdeling deelgeneem. Worcester was die wenner gevolg deur die span van Vredenburg, terwyl die Weermag-klub en Langebaan-klub se B-spanne gesamentlik derde was.
Die C-afdeling is deur Langebaan se C3-span gewen, met die tweede en derde plekke wat deur Langebaan se C2- en C1-spanne geneem is. Die beginners in die C-afdeling het die dag geniet en goeie ervaring opgedoen en sien nou uit na die volgende Weskus-jukskei-dag.
Die gasheerklub het die munisipaliteit vir sy hulp en bystand met die jukskeiterrein bedank. Die organiseerders het ook die skenkers en borge bedank.
Die Langebaan-jukskeiklub hoop om volgende jaar meer bane beskikbaar te hê om in plaas van 14 spanne altesaam 24 spanne te akkommodeer. . Enige belangstellende nuwe spelers of borge is welkom om Jaco Basson, die klub se voorsitter, by 079 167 9646 te kontak.





