Bykans ? jaar nadat ? vrou tydens ? padblokkade op die N7 voorgekeer en in hegtenis geneem is vir dwelms ter waarde van meer as R2 miljoen rand, is sy verlede week in die Vredendal-landdroshof aan dwelmhandel skuldig bevind en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.
Busisiwe Thelma Kgantlapane (34) se skuldigbevinding en vonnis (Dinsdag 11 Junie) op aanklagte van handel in dwelms is volgens lt-genl. Thembisile Patekile, die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, te danke aan die volgehoue pogings van die ondersoekbeampte en die aanklaerspan.
Weslander het op 3 Mei 2023 (“Polisie lê beslag op meer as R5 miljoen se dwelms”) berig oor onder meer Kgantlapane se inhegtenisneming op Woensdag 26 April. Sy is omstreeks 15:30 tydens ? interprovinsiale oorgrensoperasie by die Klawer-weegbrug voorgekeer. Die Mercedes-Benz waarin sy was, is deurgesoek en 41 000 Mandrax-tablette is in versteekte sportsakke in die voertuig gekry. Die dwelms het ? geraamde straatwaarde van R2 050 000 gehad.
Kgantlapane is skuldig bevind aan oortreding van Artikel 5(B) van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel, wet 140 van 1992, en is tien jaar tronkstraf opgelê, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Kgantlapane het Vrydag 28 April die eerste keer in die Klawer-landdroshof verskyn, waarna die saak na die hof in Vredendal verskuif is.
Kapt. FC Van Wyk, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het ten tyde van die inhegtenisneming beklemtoon dat die gebruik van onwettige dwelms een van die hoofoorsake van geweldsmisdaad in Wes-Kaapse gemeenskappe is, en lede verbonde aan die Weskus-polisiedistrik, die Provinsiale Operasionele Bevelsentrum en Provinsiale Verkeer geloof vir hul pogings om dwelms uit die strate te verwyder.




