Verskeie sake van diefstal uit ’n motorvoertuig is die afgelope naweek in die Weskus-polisiedistrik aangemeld.
Kapt. Tania Helfrich, die woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, maan mense weereens om nié hul waardevolle items in hul voertuie te los nie.
In Laaiplek het ’n meisie haar kêrel se bankkaart in haar beursie in haar voertuig gelos. Eers toe die kêrel agterkom dat daar geld uit sy rekening onttrek is, is daar vasgestel dat daar by die meisie se voertuig ingebreek en dat die beursie met die bankkaart gesteel is. Dit het Saterdag 18 Mei tussen 11:00 en 18:45 in Jakarandalaan plaasgevind.
Op Saterdagoggend 18 Mei omstreeks 00:50 is daar by ’n 41-jarige klaer se bakkie in Langebaan ingebreek en nagenoeg R21 000 se gereedskap gesteel. Die voertuig het in ’n openbare parkeergebied gestaan. ’n 64-jarige man is later die dag in hegtenis geneem met van die gesteelde goedere in sy besit. Hy het Maandag in die Hopefield-landdroshof verskyn.
Op Vrydagoggend 17 Mei het ’n 34-jarige man drank ter waarde van R1 500 agterin sy afleweringsvoertuig in Moorreesburg gelaai. Met sy terugkeer na die voertuig het hy opgemerk dat die drank gesteel is. ’n Paar uur daarna is twee mans, 42 en 36 jaar oud, in Darling met die gesteelde drank aangekeer. Hulle het Maandag 20 Mei in die landdroshof verskyn.
Tussen Saterdagnag en Sondagoggend 19 Mei is by twee voertuie wat in Burton Portstraat in Saldanha geparkeer was, ingebreek. Uit die een voertuig is ’n handsak en musiektoerusting gesteel.
Volgens Helfrich is die belangrikste wenk om te voorkom dat grypdiewe jou motor se ruite breek om by waardevolle items uit te kom, om niks in die motor te los nie. Sy stel ook voor dat mense in elk geval te alle tye moet seker maak dat al die voertuig se deure en bagasiebak, of die bakkie se kap, gesluit is.




